Daniel Wesley bekoor met country-klanke

Daniel Wesley. (Foto: verskaf)

Daniel Wesley, wat met sy heuningstem al in Nashville gaan draai het, gaan eersdaags op die Aardklopverhoog kuier.

Die 35-jarige Wesley het luisteraars vroeër vanjaar met sy enkelsnit, “Huis is waar my hart is”, bekoor en kort daarna is “Leef” uitgereik.

Hy is trots op die moderne country-klanke in sy musiek, en vergelyk sy musiekstyl met dié van Keith Urban.

“Ek is baie na aan daardie soort klank,” het Wesley aan Maroela Media vertel.

Dit sal die eerste keer in Wesley se loopbaan wees dat hy as solokunstenaar by so ’n geleentheid soos Momentum Beleggings Aardklop se Potchefstroomse opwipfees gaan optree.

“Ek is baie opgewonde daaroor. Ek dink die mense is uitgehonger vir die fees, en ek sien uit daarna om dit saam met hulle te geniet.”

Wesley sal Vrydag 30 September om 15:00 op die terreinverhoog te sien wees.

Wesley vertel van sy skooldae, toe sy boetie in ’n musiekgroep was en hy toegekyk het hoe hulle heerlik saam musiek maak.

“Ek was eintlik nogal jaloers. Stelselmatig het ek leer kitaar speel, hoewel my fokus eintlik op sport was. Ná skool het die gogga egter behoorlik gebyt.”

Hy het toe deel van die musiekgroep geword na wie hy as kind met verwondering opgekyk het.

Deur die jare heen het Wesley, wat oorspronklik van die Vrystaat af kom, die kollig op Engelse musiek gestel. Sy liefde vir Afrikaanse musiek het egter in sy hart begin blom, en hy is tans besig om ’n splinternuwe Afrikaanse album op te neem.

Luisteraars kan uitsien na ’n Amerikaanse klank in die nuwe album, aangesien hy die hulp van ’n veteraanmusikant, Tim Galloway, betrek om sekere dele van die liedjies op te neem.

“Dit gee net ’n lekker gevoel aan die musiek,” het hy trots vertel.

Hoewel Wesley self in 2019 Nashville toe is om sy musiekdrome na te streef, ontmoedig hy hoopvolle kunstenaars om dit te doen.

“Op die ou einde dobbel jy maar. Almal is verskriklik goed en het soveel talent daar. Die een ou is tien jaar daar sonder om sukses te behaal en die volgende sanger is maar een dag in die land voordat hy suksesvol is.”

Luister na “Leef” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.