Demi Lee, Irene-Louise oorheers Top-20

Dié week se Maroela Media Afrikaanse Top-20:

Demi Lee Moore.

Demi Lee Moore se nuwe enkelsnit, “Wie se hart breek jy vanaand”, betree vandeesweek die Top-20 in die 18de plek. Haar vorige enkelsnit, “Kan jou nie my maak liefhê”, het verlede week die Top-20 in die topposisie betree, maar val vandeesweek weer een plek terug na die 2de plek.

Irene-Louise van Wyk se “Tekkies brand” neem weer vandeesweek die no. 1-posisie in. Irene-Louise se duet saam met Jay, “My volgende fout”, is in die sewende plek op die Top-20.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar vyf snitte wat styg, sewe wat daal en sewe wat onveranderd bly en een nuwe liedjie wat dié week die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree.

  1. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  2. Demi Lee Moore – “Kan jou nie my maak liefhê”
  3. Riaan Benadé – “Spontaan”
  4. Appel – “Dina”
  5. Bernice West – “Dink aan jou”
  6. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  7. Jay & Irene-Louise van Wyk – “My volgende fout”
  8. Eloff – “Johnny blou”
  9. Rooksein – “Damlelielief”
  10. Bernice West – “Hemel op aarde”
  11. Reën – “Stof”
  12. Franja du Plessis – “Bring dit”
  13. Die Heuwels Fantasties & Spoegwolf – “Eggo”
  14. Ricus Nel – “Ploeg jy”
  15. Brendan Peyper – “Die wolf”
  16. Tasché – “Baby, ek bly”
  17. Elvis Blue – “Goud in die vuur”
  18. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  19. Leah – “Move aan”
  20. Rooksein – “Miskien”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe vrystellings:

Die Afrikaanse duo, Jack & June, het hul nuwe enkelsnit, “Kersfeestyd”, die afgelope week bekend gestel.

Volgens die paartjie is dié liedjie gevul met nostalgiese oomblikke wat wissel van Jan Ellispoeding in die oond, samesyn, geskenke onder die boom en die geluide van kinders wat lag – al die dinge wat Kersfees spesiaal maak.

Die alternatiewe Afrikaanse groep, Straatligkinders, se liedjie “Dapper” is ook pas uitgereik en daar is twee weergawes van dié liedjie op digitale platforms beskikbaar, die oorspronklike weergawe en ook ’n akoestiese weergawe.

Die Afrikaanse rocker Francois van Coke het saam met die groep gewerk aan die liedjie en sing ook saam op die snit. “Dapper” is geskryf tydens die onluste in Suid-Afrika in Julie vanjaar.

Die inspirasie vir die lied is die konsep van konflik, hetsy in romantiese verhoudings, of verhoudings in die algemeen tussen landgenote, vriende en familie. Die liedjie gaan daaroor om jou wit vlag te swaai te midde van konflik en om wapens neer te lê in ’n poging om dinge beter te laat gaan.

Ander nuwe liedjies wat die afgelope week uitgereik is, is Posduif se “Stellenbosch somersaand”, Jammer se “Tydlose gevoel”, Leandie Lombaard Bräsler se “Kaggelvuur”, Sxeeps se “Die heimwee”, Anton Botha se “Splinternuwe velllies”, C-Storm se “Kersvader”, Nicky de Kock se “Meer as genoeg”, Pieter Smith se “Kom alle getroues” en Juanita du Plessis “ Sonneblom uit Bethlehem”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.