Drake onttrek aan Grammy-benoemings

Drake op die Grammy-geleentheid in 2019. (Foto: Robyn Beck / AFP)

Verskeie bronne het Maandag aan AFP gesê die Recording Academy het die Kanadese kletsrymer Drake se versoek dat sy twee Grammy-benoemings aan volgende jaar se geleentheid onttrek moet word, toegestaan.

Daar is geen verduideliking uit Drake se kamp gegee vir sy versoek nie, hoewel ʼn bron na aan die kunstenaar gesê het Drake en sy bestuurspan het die besluit geneem.

Drake is vir twee toekennings benoem, maar sy mega-trefferalbum Certified Lover Boy is egter uit verskeie kategorieë gelaat.

ʼn Bron van die Recording Academy, wat vertroud is met die kletsrymer se versoek, het die besonderhede aan AFP verskaf en gesê Drake se benoemings is van die Grammys se amptelike webwerf verwyder kort voordat die laaste ronde van die stemmery sou begin.

Drake, wie se regte naam Aubrey Drake Graham is, is een van die wêreld se topverkopers en invloedrykste musikante wat reeds vier Grammy-toekennings ingeoes het. Die kunstenaar het egter verskeie kere in die verlede koppe gestamp met die Academy.

Hy het in 2017 tydens ’n onderhoud die Academy daarvan beskuldig dat hulle hom “in ’n boksie druk as ʼn kletsrymer” net omdat hy swart is.

“Die enigste kategorie waarin hulle my kan plaas, is die kletsrym-kategorie, miskien oor ek in die verlede gekletsrym het of dalk net omdat ek swart is,” het hy op Apple Beats 1 Radio gesê.

Drake het in 2019 op die Grammys-toekenningsgeleentheid nog ʼn keer sy frustrasie laat hoor dat swart hip-hop‑kunstenaars nie altyd die erkenning kry wat hulle verdien nie.

“Ons speel in ʼn meningsgebaseerde sport en nie ʼn feitegebaseerde sport nie,” het Drake gesê toe hy die toekenning vir beste kletsrymliedjie vir “God’s Plan” aanvaar het.

“Hierdie is ʼn besigheid waar dinge soms oorgelaat word aan ʼn groep mense wat nie noodwendig verstaan wat ʼn kind van gemengde rasse van Kanada te sê het nie.” Drake se pa is swart en sy ma is van Kanadees-Joodse afkoms.

Ander swart topkunstenaars, onder wie The Weeknd, Frank Ocean en Jay-Z, het al voorheen die Grammys afgemaak as irrelevant, veral omdat dit volgens hulle daarin faal om swart kunstenaars te erken.

Drake word tans deur talle regsgedinge in die gesig gestaar ná ʼn konsert in Houston, Texas, verlede maand waartydens tien aanhangers, onder wie ʼn negejarige seun, dood is. Die konsert is deur sowat 50 000 mense bygewoon.

Hy word daarvan beskuldig dat hy “chaos aangehits” het toe hy aan die laaste 15 minute van Travis Scott se konsert by die Astroworld-fees deelgeneem het – dit nadat owerhede reeds ʼn noodgeval aangekondig het.

Die 64ste Grammy-toekenningsgeleentheid vind op 31 Januarie 2022 in Los Angeles in die VSA plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.