Ek en jy- Dewald Wasserfall

Ek en jyMet sy eerste solo-album Vergeet wat jy weet van liefde, wat verlede jaar vrygestel is, het Dewald Wasserfall homself gevestig as een van ons land se gewildste, en beste, Afrikaanse kunstenaars.

Nou is hy eindelik terug met sy nuwe vrystelling, Ek en jy, en die vraag is of hy die sukses van sy eerste album kan nadoen. Die eerste snit, Amsterdam, is sy eie komposisie en dit is een van vier snitte waarop die Bronbergse kinderkoor saamsing. Die titelsnit is ‘n moontlike treffer en die lirieke het meer om die lyf as dié van die gemiddelde liefdesliedjie. Net ‘n mens is nog ‘n goeie snit wat ‘n treffer kan word. Hierin word ‘n verhouding tussen ‘n pa en sy kind baie goed verwoord. So eensaam soos die son was ook op Dewald se vorige album, maar dit is weer hier ingesluit. Stroom-op en been-af is nog ‘n snit waarvan Dewald die woorde en musiek geskryf het, en dit is nog ‘n moontlike treffer. Die eerste treffer vanaf die album is volgende. Gebore om te lewe is ‘n bestaande wysie met Afrikaanse lirieke, maar vir ‘n verandering maak dit nie saak nie. Die lirieke laat ‘n mens dink oor die lewe self, en dit is maklik om te verstaan hoekom dit besig is om so gewild te word. Die kinderkoor maak dit ook nog iets besonders; die probleem is dat dit moeilik gaan wees om hulle bykmekaar te kry vir konsertoptredes. Op Kerk van teer sing hy van die lewe op die langpad en die soeke na liefde.

Tomorrow is die eerste van twee Engelse snitte op die album, en dit bewys dat hy ewe gemaklik in Engels as in Afrikaans is. Hart van stof is nog een van Dewald se eie komposisies, en nog ‘n moontlike treffer. Dewald het Een dag lank saam met Johan Vorster geskryf, en hierin sing hy dat ‘n mens voluit moet lewe asof jy net een dag lewe. Johan Vorster en Christoph Kotze het My woord gskryf, en weer eens sing die Bronbergse Kinderkoor saam met hom. Weer probeer gee hoop vir diegene wat al lus gevoel het om moed op te gee met die lewe. Dewald het Vir liefde baklei saam met Johan Vorster en Christoph Kotze geskryf, en dit kan ook moontlik ‘n treffer wees. Die laaste Afrikaanse snit op die album het die interessante titel Die risiko van soen. All about me word as ‘n bonussnit aangedui; nugter weet hoekom. Hoe ook al, dit is Dewald se eie komposisie, en bewys dat hy ewe goed in Engels as Afrikaans kan skryf.

Nadat Dewald soveel sukses met Vergeet wat jy weet van liefde behaal het, het mense sekerlik gewonder of hy dit weer sou kon doen. Gelukkig is hierdie album net so goed, indien nie beter nie, en noudat hy gevestig is in die musiekbedryf behoort hy selfs nog gewilder as voorheen te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.