Eloff trek nuwe baadjie aan vir Anneli van Rooyen-treffer

Eloff op die Glimlag-fees se verhoog. (Foto: Facebook/Glimlag Fees)

Voordat die sanger Eloff bekendheid verwerf het met treffers soos “Witblits” en “Koue kole”, het hy in ʼn pizzarestaurant in Sandton gesing.

“Niemand het na my geluister nie, al het ek my hart uit gesing,” vertel hy in Maroela Media se ateljee.

“Ek het maar net die klank gemaak en hier en daar het die mense vir my handegeklap.”

Vandag is hy een van Afrikaans se grootste manlike kunstenaars. Hy gesels oor die wegholsukses van sy jongste uitreiking, “Vlerke”.

Dit is ʼn nuwe verwerking van die Anneli van Rooyen-treffer, “Neem my op vlerke”, met ʼn goeie skeut van die opgewekte Eloff-klank.

Die verwerking is geïnspireer deur die Noordwes-Universiteit se gewilde Deuntjie Dames se dansie wat hulle op die maat van Anneli se bekende treffer uitvoer. Die oorspronklike snit vier ook vanjaar sy 40ste herdenking.

Ondanks gemengde terugvoer is die musiekvideo vir die liedjie byna 250 000 keer op YouTube gekyk en pryk dit ook onder meer op die Maroela Media Afrikaanse Top-20-trefferslys.

Eloff. (Foto: Maroela Media)

“Iemand het vanoggend gesê die liedjie gee haar hoendervleis en maak haar skoon emosioneel, terwyl iemand anders gesê het ek mors goeie Afrikaanse musiek op. Dit is nooit wat ek wou doen nie.

“Die liedjie vaar steeds baie goed.”

Al lyk dit of hy ʼn partytjiedier is, is hy eintlik ʼn gebalanseerde ou. Volgens Eloff is hy ewe veel ʼn losbol as wat hy uiters verantwoordelik kan wees.

“Ek dink tog ek handhaaf ʼn goeie balans,” sê die jong sanger. Hy het onlangs in Moreletapark, Pretoria, nesgeskrop saam met sy geliefde Engelse bulhond, Elvis.

Eloff vertel hy het ʼn kop vir sake op sy skouers en sê hy geniet dit om na entrepreneurs se stories te luister.

“Ek probeer dit in my eie lewe toepas. Ek droom daarvan om eendag my eie gholfreeks uit te reik, maar dit verg baie beplanning en tyd,” sê hy.

André Martinez, sy stemafrigter, het hom destyds aan Hugo Ludik van Muse Studios voorgestel. Hulle het die idee van die liedjie, “Johnnie Blou”, aan Eloff voorgelê en kort voor lank was hy in die ateljee om die liedjie op te neem, waarna die liedjie ʼn Afrikaanse ster van Eloff sou maak.

Eloff, wat ook die kol getref het met snitte soos “Koue kole” en “Witblits”, vertel hy is ʼn gebore stadsjapie, maar dat hy maklik op die plaas kan aanpas.

“My persoonlikheid pas aan as ek op die plaas kom, en ek kan blitsvinnig die vellies vuil maak,” sê hy.

“Vlerke” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Eloff.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Vlerke”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.