Elvis Blue trap fiets vir skoolgeld

Elvis Blue. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Elvis Blue gaan vanjaar by die Innibos Laeveld Kunstefees te sien wees, maar hoe hy die lang pad tussen sy tuisdorp, George, en Mbombela (Nelspruit) gaan aanpak, is ʼn ander saak.

Dié “Meer as genoeg”-sanger saal in Junie vanjaar sy fiets op om die 1 500 kilometer tussen die twee bestemmings af te lê as deel van sy Elvis ry vir skoolgeld-liefdadigheidsprojek.

Terwyl sommige sal sê hy is gek, meen hy dié daad sal juis die nodige aandag trek vir ʼn welsynsprojek om geld vir behoeftige kinders se skoolfonds in te samel.

“Hierdie is deur en deur nie ʼn bemarkingsfoefie nie. Ons wil geld insamel vir kinders om skool te gaan en hulle geleenthede te gebruik,” benadruk Elvis aan Maroela Media.

“Daar is maar baie ouers wat droog maak, en dan moet ander mense sorg. Daar moet iemand wees wat bereid is om die kinders deur die skool te sit.”

Hy vertrek op 1 Junie vanjaar en behoort op 14 Junie in Nelspruit te arriveer.

Die projek het begin by ʼn vrou, na aan Elvis se hart, wat by sy huis werksaam is. Sy het kinders en kleinkinders en stoei tans om vyf kinders deur die skool te kry.

Elvis vertel hy help waar hy kan, maar dat hy lank terug reeds besef het sy omstandighede is nie uniek nie.

Dit is juis waarom hy besluit het om ʼn projek aan te pak om behoeftige gesinne en kinders met skoolfonds by te staan. Oor ʼn doelwit vir die reuseprojek wil hy egter nog nie uitwei nie.

“Ek het ʼn doelwit in gedagte, maar ek is so bang dat ons dit nie bereik nie, dat ek dit nie eintlik wil noem nie.

“Ek het nog nooit so iets gedoen nie.”

Elvis ry al ʼn hele paar jaar fiets en sien uit daarna om sy liefde vir die sportsoort op ʼn positiewe wyse in te span.

Hy en sy vrou het tydens die pandemie ʼn skoolbus gekoop wat hulle uiteindelik in ʼn kampeerwa omskep het, en dié gaan ingespan word om sy ondersteuningspan tydens die uitdaging te vervoer.

Hy vertel die roete is goed uitgewerk, en hy beplan om elke dag tussen sowat 100 tot 150 kilometer af te lê. Hy het reeds na boere in die omgewing uitgereik en beplan om “onder die sterre langs sy fiets” op die verskeie dorpe te oornag.

Hy nooi ander kranige fietsryers uit om dele van die reis saam met hom mee te maak. Die enigste vereiste is dat dié fietsryers ook ʼn skenking maak.

“Ek wil ook net elke fietsryer herinner hoeveel ʼn bergfiets kos en dat dit nie sin maak om R10 te skenk terwyl die fiets waarop hulle ry R120 000 werd is nie.

“Hierdie gaan lekker wees – ʼn lekker avontuur!”

  • Indien jy graag ʼn skenking wil maak en meer wil uitvind oor Elvis se roete, besoek hierdie webwerf, of maak ʼn skenking wanneer jy jou Innibos-kaartjie koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.