Foto’s: Bekendes skitter in blinkers, treffende kleure by Grammys

Carrie Underwood en haar man, Mike Fisher. (Foto: Frazer Harrison/ Getty Images North America/ Getty Images via AFP)

Soos gesien met Lady Gaga se onvergeetlike “eier-uitrusting” van 2011 en Jennifer Lopez se dramatiese groen Versace-rok in 2002 (wat gelei het tot die ontstaan van Google Images) is die jaarlikse Grammy-toekennings ʼn geleentheid waar geen modereëls geld nie.

Musiek se gesogste geleentheid het Sondag in Las Vegas, Nevada, plaasgevind en soos gewoonlik het die aand vir onvergeetlike modeoomblikke gesorg.

Bekendes, onder andere die komediant en aktrise Tiffany Haddish en kletsrymer Saweetie, het in eg Las Vegas-styl onderskeidelik in ʼn helderpienk tweestuk en blink Prada-nommer gepronk.

Die pasgetroude hotelerfgenaam en televisiepersoonlikheid Paris Hilton het ʼn silwer rok en mantel vir die aand gekies en haar kenmerkende blonde hare in ʼn gesofistikeerde poniestert vasgemaak.

Dua Lipa, Donnatella Versace en Magan Thee Stallion. (Foto: Rich Fury/ Getty Images North America/ Getty Images via AFP)

Grammy-nuweling Olivia Rodrigo, Lady Gaga en die pop-prinses Dua Lipa het stylvolle swart rokke aangehad, maar elkeen het tog hul eie unieke stempel daarop afgedruk.

Rodrigo, wat bekend is vir haar 1990’s-styl, het ʼn noupassende swart Vivienne Westwood-rok met pienk aksente en lang handskoene gedra. Gaga, wat die afgelope paar jaar eerder fluweelrokke as vleis-rokke op die rooi tapyt verkies, het gestraal met sagte grimering en ʼn stylvolle swart uitrusting met ʼn dramatiese wit sleep.

Dua Lipa en Megan Thee Stallion het die aand saam ʼn prys oorhandig en oënskynlik in dieselfde swart Versace-rok op die verhoog uitgestap. Terwyl die twee “ontsteld” gelyk het dat hul in presies dieselfde uitrusting geklee was, het dit vinnig duidelik geword dat dit net ʼn grappie was toe die ontwerper van hul rokke, die ikoniese Donatella Versace, op die verhoog gehardloop het en die onderste helfte van albei sangeresse se rokke afgeruk het om korter én verskillendes weergawes daarvan te onthul.

Hailey Bieber se eenvoudige uitrusting was ‘n gunsteling. (Foto: Frazer Harrison/ Getty Images North America/ Getty Images via AFP)

Die manne het ook vanjaar eenvoudige swart pakke vir vere, helder kleure en blinkers verruil. Die rock-legende Lenny Kravitz het ʼn leerbroek en uitgesnyde blink hemp gedra, terwyl die House of Gucci-akteur en sanger Jarred Leto op die rooi tapyt in ʼn treffende Gucci-jas met pelsaksente op die moue verskyn het. Die kletsrymer Lil Nas het ʼn wit Balmain-pak met ʼn treffende skoenlappermotief en bypassende wit skoene met dik sole vir die groot geleentheid gekies.

Die popsanger Justin Bieber en sy modelvrou, Hailey Bieber, se kontrasterende uitrustings het ook die koppe laat draai. Die supermodel het treffend in ʼn eenvoudige ivoorkleurige rok van die Franse modehuis Saint Laurent en delikate diamanthalssnoere gelyk. Haar Grammy-genomineerde man, wat ongelukkig met leë hande huis toe is, het ʼn oorgroot donkergrys pak en swart skoene – soortgelyk aan dié van Lil Nas – met ʼn helderpienk mussie en sonbril gedra.

Die countrymusiek-koningin Carrie Underwood, wat vanjaar haar agste Grammy-toekenning ontvang het, het ook op die rooi tapyt geskitter in ʼn ombré balrok met ʼn blink bolyf.

Bronne: AFP/Vogue/Harper’s Bazaar

Kyk hier hoe die sterre gelyk het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Impact ·

Van hulle lyk deftig maar genade Blieper lyk uiters slordig. Hou van Paris Hilton en Lady Gaga se uitrustings,uiters elegant en deftig.

Vonkprop ·

By watter sirkus was Lil Nas en Justin Bieber? Bieber het duidelik vergeet om sy narpak en skoene uit te trek. Ek is nie so ryk soos hierdie spul nie, maar ek het darem baie meer klas.

ABDP ·

Ek weet regtig nie wat is mooi aan van die mense se klere nie!

COBUS ·

Justin is uiters SLORDIG.
Lyk soos Charlie Chapkin van ouds.
SIES !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.