Franja vier die lewe, leef passie uit met musiek

Franja du Plessis is ewe gemaklik in die ateljee as op die verhoog. (Foto: Facebook/Franja du Plessis)

“Hakahana” is ʼn Herero-woord wat ‘haastig’ beteken, waarmee die sangeres en liedjieskrywer Franja du Plessis se bekende ma, Juanita, haar en haar broers altyd aangejaag het toe hulle kinders was – en selfs vandag nog!

Franja vertel aan Maroela Media sy wou met hierdie splinternuwe enkelsnit die lewe vier.

“Ek wil hê mense moet die lewe geniet en die oomblik omhels. Ek wou dans en onvergeetlike herinneringe skep,” sê die aanvallige donkerkop-sangeres, wat ook bekend is vir haar vervaardigingsvernuf.

Sy het onlangs haar ouer broer, Ruan Josh, se jongste vollengte album, getiteld Wysers, vervaardig. Sy vertel laggend dit was heerlik om saam met haar broer te werk, al het hy soms aan die slaap geraak in die ateljee terwyl sy aan ʼn liedjie skaaf.

“Ek is baie perfeksionisties en Ruan se album was vir my ʼn groot projek. Ek wil hê alles moet perfek klink, so ek luister oor en oor daarna tot dit reg is. Daar was ʼn paar kere wat ek omgekyk het in die ateljee, dan slaap Ruan agter my op die rusbank,” lag Franja.

Sy vertel sy geniet dit om voor die groot gehore wat haar en haar gesin se musiek ondersteun op te tree, maar bieg dat die ateljee haar toelaat om in haar eie spasie te wees.

“Ek geniet dit ook geweldig baie. Op die verhoog is jy absoluut omring deur mense, waar ek in die ateljee weer net alleen met my gedagtes is. Dit is lekker om kreatief te kan wees en ʼn liedjie te bou en te sien hoe die eindproduk ontwikkel.”

Die musiekvideo vir “Hakahana” is energiek en kleurvol en is geskiet by King Price Insurance se kantoor.

“Ek is mos maar aan die skaam kant van die lewe, so ek raak maar senuweeagtig voor die kamera en wil graag hê als moet mooi en reg lyk. Dit vat baie energie om heeldag goed te lyk, maar dit is vir my lekker om video’s te maak. Net soos die musiek, hou ek daarvan om te sien hoe die konsep tot die eindproduk groei.”

“Hakahana” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Hakahana”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.