Hoe oud is Afrikaanse volksmusiek?

sarie maraisDie wenner van Maroela Media se veldtog om die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye op te spoor is pas aangekondig. Koos du Plessis se “Kinders van die Wind” het toe natuurlik die stof in die ander mededingers se oë geskop.

Die vloer is vooraf wyd vir die publiek oopgegooi om self benoemings te maak, en ’n paneel het die benoemde liedjies daarna in vyf kategorieë opgedeel, waarna mense kon stem vir hul gunstelinge.

Kyk ’n mens na die meeste van die liedjies wat dit tot die top-25-lys gemaak het, kan jy maklik dink Afrikaanse musiek is nie ouer as 50 jaar nie. Dis nou tot jy by die die afdeling vir tradisionele musiek kom waar ’n paar stokou juweeltjies jou tot ander insigte kan bring.

Die top-vyf liedjies in hierdie afdeling was “Al lê die berge nog so blou”, “Die Stem van Suid-Afrika”, “Ou ryperd”, “Oukraalliedjie” en “Suikerbossie” en vir geslagte Afrikaanssprekendes is dit voorbeelde van liedjies waarmee hulle grootgeword het. “Die Stem van Suid-Afrika” het die meeste stemme in hierdie kategorie gekry.

Presies hoe oud Afrikaanse volksmusiek is, is moeilik om te bepaal omdat baie van die liedjies vir lank bestaan het voor hulle opgeteken is. Baie is glad nie opgeteken nie en het verlore gegaan.

Volgens ’n artikel deur Martjie Bosman in die Tydskrif vir letterkunde in 2004, het belangstelling in Afrikaanse volksmusiek reeds in die loop van die 19de eeu ontstaan. Charles Etienne Boniface (1787-1853) was waarskynlik die eerste om Hollands-Afrikaanse liedjies op te teken, skryf Bosman, maar dit was eers kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoolog in 1899 wat daadwerklike pogings aangewend is om dié liedjies te versamel.

Populêre liedjies het in die tweede helfte van die 19de eeu uit die VSA na die Suid-Afrika versprei.

Baie hiervan was erg sentimenteel en is deur besoekende groepe soos Christy’s Minstrels en bundels soos The Globe Song Folio na Suid-Afrika gebring.

Baie van hierdie liedjies is na Afrikaans vertaal en het Afrikaanse titels gekry, waarvan “Sweet Ellie Rhee” waarskynlik die bekendste is. Dié liedjie het in Afrikaans neerslag gekry as “Sarie Marais”.

Kyk ’n mens na die strekking van die artikel “Ons ou volksliedjies” wat op 9 Mei 1930 in Die Huisgenoot verskyn het, was daar selfs toe nog nie baie erns onder Afrikaanssprekendes om Afrikaanse volksmusiek te bewaar nie.
“Ons kan vanself oordeel dat volksliedjies nie aan die hoë letterkundige verseistes voldoen nie, want dis oppervlakkige uitings, en nie diep-sluimerende hartstogte wat uit ’n digtersiel ontvlam nie,” word in dié artikel betoog.

Die artikel lewer ’n pleidooi dat dié musiek nietemin bewaar moet word, met ’n redelik emosionele slotwoord: “Wees regte Afrikaners; wees troue Afrikaners, sing Afrikaanse volksliedjies!”

Dit is nie net die geringskatting onder Afrikaanssprekendes self wat daartoe gelei het dat baie liedjies verlore gegaan het nie, maar ook die gebrek aan kundigheid om die musiek te noteer en vir die nageslag te bewaar.

In die artikel in Die Huisgenoot is daar in 1930 geskryf dat die “moderne beskawing” dié liedjies verdruk het. “Hulle word verdryf deur uitlandse liedjies wat op die grammofoon gespeel word. Waarom sit ons nie ons eie liedjies op die plate nie?”

’n Vrystater met die naam S.H. Pelissier het in 1912 begin om “piekniekliedjies” en speletjies te begin opteken nadat hy te doen gekry het met Sweedse volksang en -danse.

Met die simboliese Ossewatrek in 1938 het belangstelling in volkspele ’n verdere hupstoot gekry en baie liedjies soos “Aanstap, rooies”, “Suikerbossie” en “Bobbejaan klim die berg” is opgeteken.

Dit was ook die versamelwerk van die taalkundige S.P.E. Boshoff en sy vrou, Hester du Plessies, wat tussen 1918 en 1921 tot twee waardevolle bundels gelei het, by name Afrikaanse volksliedjies: Deel I, Piekniekliedjies en Afrikaanse volksliedjies, Deel II, Minneliedjies.

Bosman verwys voorts na die werk wat deur die Nederlands-gebore Jo Fourie gemaak is op die gebied van instrumentale musiek. Dié merkwaardige vrou het ’n groot belangstelling in boeremusiek gehad en het selfs haar eie boeremusiekorkes gehad. Sy en haar seun het in 1935 begin met hul reise deur die land en ’n versameling van meer as ’n duisend wysies opgeteken, waarvan baie op die maat van die wals, polka, seties en masurka was.

Volgens ancestry24.com het die FAK in 1957 die volksmusiek-kongres gestig en in 1960 het volksmusiek ’n verdere hupstoot gekry met die stig van die Instituut vir Volksmusiek aan die Universiteit van Stellenbosch.

Dit was nog ’n Nederlander, Jan Bouws, wat ’n groot belangstelling in Afrikaanse volksmusiek gehad het.

Hy het Suid-Afrika die eerste keer in 1957 besoek om ’n reeks lesings aan te bied en daarna baie navorsing oor Afrikaanse volksliedere gedoen.

Hy het later na Suid-Afrika geïmmigreer en ’n hele paar Afrikaanse gedigte begin toonset, waarvan “Op my ou ramkietjie” deur C. Louis Leipoldt seker die bekenste is.

Die sanger Randall Wicomb het jare later in samewerking met Pieter W. Grobbelaar ook baie gedoen om liedjies te dokumenteer wat andersins verlore sou gaan.

Wicomb sê Grobbelaar was in die middel-1970’s besig met navorsing oor Afrikaner-eiegoed en het eendag by sy huis opgedaag met ’n “boks vol bandjies”. “Grobbelaar het vir my gevra om die musiek op die bandjies af te stof en te restoureer,” onthou hy.

In die boks was letterlik honderde kasette met liedjies wat Grobbelaar opgeneem het terwyl hy deur die land gereis het.

Wicomb sê dit het ure se luister geverg omdat dit dikwels bejaarde mense was wat die liedjies sonder begeleiding gesing het. En dikwels het hulle die woorde vergeet of sommer nuwe versies opgemaak.

“In die ou dae was dit vir die mense ’n vorm van vermaak om rympies en liedjies te maak,” sê hy.

Dit is om hierdie rede dat daar soveel verskillende weergawes van volksliedjies bestaan, want mense het glo sommer lukraak versies bygevoeg of woorde verander as hulle die oorspronklikes vergeet het.

Later het Grobbelaar en Wicomb se werk gelei tot ’n weeklikse radioprogram, Die volk as digter, waarin daar oor die liedjies gesels is en dit gespeel is.

Met die koms van televisie na Suid-Afrika in 1976 het ’n TV-program, Daar staan ’n blom, ook gevolg. Wicomb sê hy en Rina Hugo het van die ou liedjies gesing, en dit was baie gewild, al het geen platemaatskappy aanvanklik belang gestel daarin om dit op te neem nie.

Later het liedjies soos “Ou sontjie sak mos weg” en “Witbroek” groot treffers vir hom geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Heidi Scrooby ·

Baie dankie, hierdie is baie interessant en waardevol. Sien uit na meer van hierdie tipe inligting. Kan ek ‘n guns vra, asb? Om ook al hierdie artikels se datum van plasing/skrywe, asook die naam van die samesteller/joernalis van die skrywe vir ons hierby te plaas…nogmaals dankie.

aderene ·

Ek was in 1994 getaak om ‘n soiree in die “Spookhuis” Erasmusrand te doen vir al die hoofde van die onderskeie Weermagsdele. Ek het besluit om ou Afrikaanse volksiedjies te gebruik vir die geleentheid. Ek het toe kennis gemaak met n dame, haar naam was Jubrie of Joubrie. Ek kan nie meer haar van onthou nie, maar ek weet sy het baie gereeld op die destydse Afrikaanse radio opgetree. Sy het bladmusiek van die mees wonderbaarlikste, jaartoetse Afrikaanse juwele gehad. Ek wonder of haar kinders dit bewaar het na haar afsterwe. Willie Strauss was die storie-verteller die aand. Ken iemand dalk die familie?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.