Jaid River deel betekenisvolle boodskap met musiek

Met ’n doelgerigte musiekhart en ’n ywerige skrywerspen, wil die 23-jarige Jaid River ’n verskil met haar musiek maak.

Sy het haar eerste oorspronklike enkelsnit, “Duisend jaar van nou”, reeds op die ouderdom van 18 geskryf toe sy van George na Pretoria verhuis het.

“Skielik was daar ’n hele nuwe wêreld om my om te ontdek en ek wou dit op die verhoog vasvang,” het River gesê.

Deur die paar jaar wat verloop het sedertdien die liedjie vir die eerste keer die lig gesien het, het hy bloot net nog meer betekenisvol vir die sangeres geword.

“Dit het begin met die idee dat ek graag iets wil nalaat – wat kan ek doen wat mense sal onthou? Ek het sedertdien besef dat om jou stempel op die wêreld af te druk, meer gaan oor wie jy is as wat jy doen. Dit gaan daaroor om vrede te maak met jouself en te weet dat jy genoeg is.”

Haar selfontdekkingsreis waarop dié reuse‑tog haar gevat het, skyn juis deur die nuwe liedjie. River, wie se regte naam Jeanlie Minnie is, fokus daarop om die lewe opreg te geniet en nuwe mense wat oor haar lewensreis kom te waardeer.

Die musiekvideo van “Duisend jaar van nou” is deur GP van der Merwe by Big Red Barn geskiet. Xander van den Berg was die fotograaf en Megan du Preez was die stilis.

“Omdat die lirieke baie betekenisvol is, wou ek die video eenvoudig hou,” het River oor die konsep van die video vertel.

“Die woud in die video verteenwoordig die onbekende. Ons begin buite die woud waar ek net daarna kyk en eintlik te bang is om te naby te gaan. Soos wat die liedjie opbou, ontwikkel die video verder tot waar ek op die ou end die woud in hardloop en besluit om ’n kans te vat en die beste daarvan te maak.”

Kyk na die musiekvideo van “Duisend jaar van nou” hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.