Jan Jan Jan kuier op Top-20 met ‘ʼn lekker ou’

Die manne van Jan Jan Jan maak hul toetrede tot Maroela Media Afrikaanse Top-20 die week met “Hy’s ʼn lekker ou” en die musiekvideo van dié lied is al meer as 407 000 keer in net twee weke gekyk.

Appel. (Foto: Youtube)

Meisies bring vir Appel groot geluk op vandeesweek se Top-20. Sy snit “Diana” maak sy buiging op die treffersparade en dit is ook pas as ʼn enkelsnit op stroomdienste uitgereik.

“Foute” van Appel bly vir die tweede week op die nommer een posisie, terwyl Nora Vlok, wat hy saam met Die Heuwels Fantasties sing, ʼn stewig tiende plek beklee.

In vandeesweek se Top-20 is daar vyf liedjies wat klim, elf wat hul plekke verloor, twee wat onveranderd bly en twee nuwe liedjies wat op die Top-20 verskyn.

1. Appel – “Foute”
2. Eloff – “Koue kole”
3. Barto – “Impulsief”
4. Wilma van Heerden – “Sysoen”
5. Bernice West – “Lyfie”
6. Appel – “Diana”
7. Barto – “H2Oë”
8. Marno van der Merwe – “Uit my lyf”
9. Lisie Basson – “#23”
10. Die Heuwels Fantasties met Appel – “Nora Vlok”
11. Juan Boucher – “Dans met gevaar”
12. Brendan Peyper – “Nee of ja”
13. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
14. Zaan Sonnekus – “Monitor”
15. Dodo Nyoka – “Foto’s”
16. Droomsindroom – “Ek ly aan”
17. Jan Jan Jan – “Hy’s ʼn lekker ou”
18. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
19. Prop – “Kwaaitjie”
20. Die Piesangskille – “Mal Maandagaande”

Nuwe uitreikings:

Die MK89-generasie sal nostalgies raak oor kunstenaars soos Foto na dans, Glaskas, Zinkplaat en natuurlik Ryno Velvet se “Ai, my lam”. Nou 16 jaar later is Ryno weer terug met ʼn nuwe bekendstelling, “Volkswagen bussie”.

Sedert 2006 het Ryno vier studio-albums bekendgestel en saam met verskeie groot name in die musiekbedryf gewerk. Een van sy ou vriende, Fred den Hartog het die vervaardiging van dié lied vir Ryno behartig.

“John Deere hoed” het ʼn interessante storie vertel Fanus Pienaar, ʼn sanger en liedjieskrywer van Pretoria. Hy was een aand in ʼn kuierplek in die ooste van Pretoria toe ʼn “popmooi” meisie met ʼn John Deere-hoed daar instap. Dit is waar hy die inspirasie vir dié lied gekry het. Die liedjie beskryf die perfekte meisie wat enige man se knieë kan lam maak. Volgens Fanus is dié meisie “die een wat al die boksies merk; sy is mooi, sy kan werk, sy kan boer, sy kan jag, sy’t ʼn hart van goud en sy kan enige man onder die tafel in kuier. Sy is die tipe wat jou bang maak want jy weet sy kan alles doen en sy weet hoe om ʼn man te vang en jou verlief te maak.”

Ander liedjies wat bekendgestel was die afgelope week was: Tarryn Lamb met “Hoor jy my”, Francois van Coke en Zaan Sonnekus met “Almal baklei”, Jacques Leonard met “Leuens van gister”,  Marcel Dalmayda met “Iemand anders”, Van der Aven met “Oud geword”, Corrazerwas met “Wanneer jy groet” en Almero met “Babel”.

Nog ʼn nuwe uitreiking is Marissa se lied “Laat dit goed gaan”. Kyk hier na sy musiekvideo:

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.