Jeugsimfonieorkes, Akademia-koor hou konsert by Voortrekkermonument

Die FAK Jeugsimfonieorkes. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jeugsimfonieorkes tree Dinsdag saam met die volledige Akademia-koor in die Voortrekkermonument se Heldesaal op.

“Hierdie gesamentlike konsert dui op groei en aanpasbaarheid, en die feit dat die orkes nou al saam met ʼn koor kan optree, is ʼn teken van volwassenheid,” sê Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekprojekte en dirigent van die FAK Jeugsimfonieorkes, oor die orkes se tweede konsert.

Gehore kan onder meer uitsien na die orkes se uitvoerings van Jean Sibelius se “Andante Festivo”, “Wachet auf ruft uns die Stimme” uit JS Bach se Kantata no. 140 en “Yoda’s Theme” uit John Williams se Star Wars Suite.

Die Akademia-koor gaan verskeie koorwerke deur Awie van Wyk en Franco Prinsloo, en Valiant Swart se gewilde lied “Sonvanger”, uitvoer. Die musiekgroepe kom ook byeen vir ʼn gesamentlike aanbieding van “Let There Be Music” deur Gordon Young, wat vir koor en orkes verwerk is.

Die FAK Jeugsimfonieorkes se konsert saam met die Akademia-koor volg op die orkes se amptelike bekendstellingskonsert wat op 24 Maart plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn uitnodiging aan die einde van 2022 aan jong musikante gerig is. Dié uitnodiging is met groot opgewondenheid deur die publiek ontvang, en nadat die oudisieproses afgehandel is, het die groep in Februarie vanjaar begin om saam te oefen.

Petria Zeevart, orkesmeester van die FAK se Jeugsimfonieorkes, sê hoewel die orkeslede nog nie so lank saam speel nie, is elke oefening en konsert ʼn geleentheid om as groep te ontwikkel en te groei. “Hoe meer ons saam speel, hoe beter speel ons saam.”

Lede van Akadmia se koor voor die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Jaco meen die konsert saam met Akademia bied nie net aan beide instellings die geleentheid om te ontwikkel nie, dit gee ook aan musikante ʼn kans om daaraan gewoond te raak om saam met ander musiekgroepe op te tree. “Orkeslede moet veral fyner luister wanneer daar met ʼn koor saamgewerk word vir ʼn uitvoering.”

Volgens die FAK is musiek diep in die Afrikanerkultuur gewortel. Die heel eerste vries in die monument se Heldesaal bevestig die Afrikaner se liefde vir musiek.

“Selfs met die Groot Trek en die uitdagings wat ons voorouers in die oë gestaar het, is daar musiek gemaak, gedans en gesing. Op die eerste vries verskyn ʼn toneel van Oosgrens-burgers wat hul lewens oppak vir die trek, en instrumente is iets wat nie agtergelaat word nie.”

Die konsert begin om 19:00 op 16 Mei. Kaartjies kos tussen R80 en R150 (prys onderworpe aan verandering) en dit is aanlyn op Plankton beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.