Jong pianiste pronk in nasionale klavierkompetisie

Charl du Plessis (Foto: Verskaf)

Meer as 30 van die land se jong belowende pianiste gaan dinge vandeesweek uitspook om te kyk wie se vingers die flinkste oor die klawers kan dans.

Die 11de Atterbury Nasionale Klavierkompetisie vind van 19 tot 23 Oktober in die Atterbury Teater in Pretoria plaas.

Dié kompetisie is in 2011 deur Claudine van Breda en dr. Willie de Jager tot stand gebring nadat dit onder hul aandag gekom het dat daar nie ʼn platform vir jong pianiste is om op nasionale vlak met mekaar mee te ding nie.

Dit is dus die enigste kompetisie van sy soort in Suid-Afrika en bestaan uit drie kategorieë: vir pianiste van 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger.

Ná ʼn streng siftingsproses is gekeurdes vanjaar in KwaZulu-Natal, Pretoria, Johannesburg, die Vrystaat, die Wes-Kaap en selfs so ver as Namibië gekies om aan die finale rondtes deel te neem.

Volgens Van Breda, self ʼn bekroonde klavieronderwyseres, is dié kompetisie dikwels ʼn wegspringblok vir jong talentvolle pianiste, met wenners en finaliste wat later met hul talent op internasionale verhoë woeker.

Die bekende Suid-Afrikaanse pianis Charl du Plessis is vanjaar vir die tweede keer by dié kompetisie betrokke nadat hy ook verlede jaar deel van die beoordelaarspaneel was.

Du Plessis het aan die GROOT Ontbyt vertel dat die jong musici wat aan dié gesogte kompetisie deelneem se talent die publiek verstom sal laat. “Ek verwonder my altyd aan die vreesloosheid waarmee jong pianiste baie moeilike musiekstukke in dié kompetisie aanpak. Jou mond kan nie anders as om oop te hang nie.”

Die internasionaal gerekende konsertpianis dr. Ben Schoeman, prof. Hubert van der Spuy (beskermheer) en dr. Riana Bester is vanjaar die beoordelaars terwyl Du Plessis as organiseerder optree.

Dié kompetisie bestaan uit vier rondtes, waarvan die eerste twee op Donderdag 20 Oktober en Vrydag 21 Oktober van 09:00 tot 17:00 plaasvind. Hierna word 18 semifinaliste aangekondig wat deurdring na die derde rondte wat eerskomende Saterdagoggend van 09:00 sal plaasvind.

Daarna word nege finaliste in die genoemde drie kategorieë bekendgemaak, met die wenners wat dan Sondag tydens ʼn spoggerige gala-geleentheid aangekondig word.

Die publiek kan die drie uitdunrondtes gratis bywoon en kaartjies vir die gala-geleentheid is aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.