Juan Boucher ‘dans met gevaar’ op Top-20

Juan Boucher. (Foto: verskaf)

Alhoewel Juan Boucher se “Dans met gevaar” reeds in Desember 2022 uitgereik is, maak dié lied eindelik vandeesweek sy toetrede tot die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 12de posisie.

Dit is ook nie die enigste liedjie van dié sanger wat dié week in die kollig is nie. Die musiekvideo van sy 2021-treffer, “Trein”, is onlangs uitgereik en het in die top-50 gewildste musiekvideo’s op YouTube beland.

Die Heuwels Fantasties en Appel beklee weereens die eerste plek op die top-20 met hul liedjie, “Nora Vlok”, terwyl Bernice West in die tweede plek met “Lyfie” skitter.

Barto het steeds drie liedjies, “Impulsief”, “H2Oë” en “Ons twee genoeg”, wat hy saam met Marissa uitgereik het, op die Top-20. Eloff se “Swipe regs”, “Witblits” en “Johnnie Blou” pryk ook steeds in hul plekke op die Top-20.

In vandeesweek se Top-20 is daar vyf liedjies wat klim, nege wat hul plekke verloor, vyf wat onveranderd bly en een nuwe liedjie wat dié week die trefferparade betree.

  1. Die Heuwels Fantasties & Appel – “Nora Vlok”
  2. Bernice West – “Lyfie”
  3. Barto – “Impulsief”
  4. Wilma van Heerden – “Sysoen”
  5. Barto – “H2Oë”
  6. Brendan Peyper – “Nee of ja”
  7. Sakkie saam met Francois van Coke – “Hey jy”
  8. Dodo Nyoka – “Foto’s”
  9. Eloff – “Swipe regs”
  10. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  11. Barto saam met Marissa – “Ons twee genoeg”
  12. Juan Boucher – “Dans met gevaar”
  13. Zaan Sonnekus – “Monitor”
  14. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  15. Eloff – “Witblits”
  16. Droomsindroom – “Ek ly aan”
  17. Prop – “Kwaaitjie”
  18. Eloff – “Johnnie Blou”
  19. Nicholis Louw – “Coco Pops en kaas”
  20. Elvis Blue – “Hart van klip”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Stephan Visagie en Henri Alant se nuwe liedjie, “Vergeet my hier”, het sy ontstaan in die Bosveld gevind. Dié liedjie is juis geskryf om mense terug te lok na hul gelukkige plek, wat vir Stephan die Bosveld is.

Riaan Grobler se “Vat 5”, geskryf deur Rudi Claase, is in samewerking met Solidariteit Helpende Hand ten bate van liefdadigheid uitgereik.

“Ons vat graag hande, ons vat graag vyf saam met Riaan Grobler en ons nooi ons gemeenskappe graag uit om saam met ons ʼn verskil te maak,” het René Roux, adjunk uitvoerende hoof van  Solidariteit Helpende Hand, gesê.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die organisasie se jaartema, “Hier’s my hand”.

“Die ‘Vat 5’-video wat ons nou bekendstel sluit baie daarby aan. Dit kom in kort daarop neer dat ons die hele gemeenskap benodig. Ons gee so bietjie van ons tyd, aandag, van ons menswees en ons gawes. So gee ons ook ʼn bietjie van wie ons is. ’n Gemeenskap tree vorentoe, ’n gemeenskap sê ‘vat vyf’ en hier gaan ons die toekoms tegemoet, nie alleen nie, maar saam met mekaar,” verduidelik hy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.