Juan Boucher sê ‘goud lê in papier, pen, kitaar en jou hart’

Juan Boucher. (Foto: verskaf)

Toe Juan Boucher jare gelede, nog in sy vroeë twintigs, ’n paar liedjies neergepen het om vir ʼn ekstra inkomste te verkoop, het hy nie in sy wildste drome gedink dat duisende mense saam met hom dié liedjies by uitverkoopte konserte sou sing nie.

Juan het deur sy loopbaan ’n gunsteling in die Afrikaanse musiekbedryf geword met liedjies soos “Ek dink ek mis maar net jou hart”, “Bring die water” en “Dogter” wat gereeld in Afrikaanse huise weerklink.

Juan het in Maart vanjaar die verhoog met die Amerikaanse Country-sanger, Kip Moore, by Loftus Versfeld-stadion in Pretoria en die Grand West Arena in Kaapstad gedeel.

“Ek het al voor baie mense in my lewe opgetree, maar om voor 8 000 mense op Loftus op te tree, is gek,” het hy aan Maroela Media vertel.

Juan het destyds Kip Moore se musiek aan Wimpie van der Sandt van Bok Radio bekendgestel. Dit het nie lank geneem voordat Wimpie besef het dat Kip nie net ’n reuse-Suid-Afrikaanse volgelinggroep het nie, maar dat ’n Kip Moore-vertoning uitstekend in Suid-Afrika sal vaar.

Die kaartjies vir die vertoning het tot so ’n mate uitverkoop dat hulle nie net ekstra vertonings op die boeke moes kry nie, maar dat hulle besluit het om die konsert sommer by Loftus te hou. En hoewel mense die kaartjies gekoop het om vir Kip te sien, het duisende van hulle saam met Juan gesing. Dit was ’n onvergeetlike oomblik vir dié kunstenaar.

Juan het onder meer saam met Kip en sy groep gebraai, iets wat hy as ’n lekker en interessante kultuurervaring beskryf.

“Hulle is rou Amerikaners,” vertel Juan.

“Hulle kultuur is maar wat mens sou verwag, maar dit is ongelooflike mense.”

Hoewel musiek vandag deur sy are pols, was dit nie Juan se aanvanklike plan met sy lewe nie. Hy het deur die jare heen ’n verskeidenheid van klein werkies gedoen om geld bymekaar te maak, maar nie een het werklik vasgesteek nie.

Op 22 het sy liefde vir musiek, sy kitaar en liedjieskryf egter oorgeneem.

Die liedjieskrywer, Anton Myburgh, het op ’n dag in die saal beland waar Juan se ma as verpleegster gewerk het. Sy het nie op haar laat wag nie, sy het byna onmiddellik vir Anton gevra om na haar seun se liedjies te luister.

Hierdie waagsprong het die pad vir Juan oopgekloof om heerlik vir homself in die Afrikaanse musiekbedryf nes te skrop.

Nadat hy een van sy liedjies vir Anton gespeel het, is hulle na Andrew Roos, ’n musiekvervaardiger in Ermelo om van Juan se liedjies op te neem. Dit is juis by Andrew waar Juan se eerste twee albums én sy trefferliedjie, “Bring die water”, opgeneem is.

Vandag is Juan 38, en hy kyk met dankbaarheid na sy loopbaan.

“Daar was ’n groot liedjie op elke album wat ek sover uitgereik het,” vertel hy.

“En ek hou aan werk om goeie musiek vir mense te maak.”

Hoewel die verhoog ’n plek is waar Juan tuis is, is dit die skryfproses wat sy hart die vinnigste laat klop.

Dit is ongelooflik om musiek te skryf, erken die sanger.

“Die goud lê in papier, ’n pen, ’n kitaar en jou hart.”

Juan het onlangs die musiekvideo van sy trefferliedjie “Trein” bekendgestel. Alhoewel dit sowat ’n jaar geneem het om die video te konseptualiseer en te skiet, is die video nou net so groot soos die liedjie, vertel Juan.

Die video is tydens die Kip Moore-vertonings in Pretoria en die Kaap geskiet, asook tydens ses uitverkoopte Barnyard-vertonings.

“Nou kan die kyker voel asof hy of sy deel van die gehoor is.

“Die liedjie gaan oor mense wat mekaar nodig het. Niemand kan alleen wees nie. Dit is moeilik om die trein alleen te stoot.”

Kyk na die musiekvideo van “Trein” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.