KKNK 2020: Allegaartjie van musiekgenres aangebied

Nicole Holm. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die program vir die 26ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees, wat van 23 tot 29 Maart vanjaar in Oudtshoorn plaasvind, bied uiteenlopende en uitstaande musiekvermaak vir die hele gesin.

Musiek is dikwels die middelpunt van feesgangers se vermaak en dié jaar is daar uitvoerings en kunstenaars vir elke smaak. ’n Allegaartjie van genres word aangebied.

“Die feesprogram vir 2020 is saamgestel om aan ieder en elk iets te bied,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, die organisasie wat die KKNK aanbied.

“Ons wil hê families en vriende moet hier in die Klein-Karoo kom ontspan en wegbreek van die alledaagse. Gratis vermaak en gesprekke word aangebied en jy kan die fees inneem sonder om jou sente te veel om te draai. Ons bied net die beste aan en jou gunsteling-kunstenaars is almal deel van die program. Dit sluit baie debute, maar ook die beste werk van die afgelope jaar in. Jy kan hier rojaal kom feesvier!”

Nuwe musiekproduksies sluit in Smeltkroes met onder andere Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry en Jolyn Phillips met die raakvat-regisseur Nicole Holm. Hulle speel met die konsep dat dié groep musikante baie meer as net taal gemeen het.

Schalk Joubert: 25 Jaar met ’n baskitaar is dié kunstenaar se reis deur 25 jaar as musiekverwerker en musikant. Verskeie medemusikante kom loer in om sy storie te verryk, onder wie Anton Goosen, Koos Kombuis, Gert Vlok Nel en vele ander. Oos Kombuis is ’n koorsamewerking tussen twee kontinente en twee kore onder leiding van Simon Witbooi. Die oorsprong van Afrikaans word belig uit ’n Oosterse hoek en maak ’n draai ver in die verlede met die eerste slawe wat hier op die suidpunt van Afrika aanland. Neruda: Hartstog is Afrikaanse vertalings van die Nobelpryswenner Pablo Neruda se gedigte, gebaseer op die vertalings van De Waal Venter se Vandag is boordensvol, met toonsettings deur plaaslike komponiste opgevoer deur sangers en akteurs, onder wie Gideon Lombard, Sandra Prinsloo, Schalk Joubert, Lynelle Kenned, Pierre Breytenbach en Churchill Naudé.

Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

Ná hulle aanvanklike sukses span Coenie de Villiers en Deon Meyer weer kragte saam in Karoo Suite 2: Karoonagte. Hulle maak gebruik van dieselfde ryk resep met stories en liedjies deur twee ikoniese kunstenaars en dié keer help die kitaarvirtuoos Mauritz Lotz om die musikale klanke aan te vul. Eet Kreef!, die ikoniese album van Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, se 30ste verjaarsdag word gevier met ’n heerlike huldeblyk. Die musiek word vereer deur ’n gedugte span met onder andere Laudo Liebenberg (sang en kitaar), Frank Freeman (elektriese kitaar en sang), Schalk van der Merwe (baskitaar en sang), Sheldon Yoko (tromme) en Mikhaela Kruger (klawerbord en sang).

Daar is ’n oorvloed van hoogtepunte waaronder Amanda Strydom: Nostalgie met die kunstenaar wat stories en liedjies uit haar verlede gaan haal. In André Schwartz: Die pad span die gewilde sanger saam met grapkas Casper de Vries om sy lewe van gister tot nou te bekyk. Anna Davel pak die musiek van die gedugte Shirley Bassey in Diamonds aan; terwyl die sanger Jannie du Toit en tjellis Susan Mouton die musiek van Doep tot Dylan, die Beatles tot Brel, in Die eggo van jou belig. Elzabé Zietsman keer terug met hardebaard-kabaret in Femme is fatale met die veelsydige Tony Bentel as begeleier terwyl sy die waansin en woede gerig teen vroue van vandag onder die loep neem.

Moet ook nie vir Demi Lee Moore, die PJ Twins en Robin Pieters, almal uitblinkers in sangkompetisies, wat spog met hulle sangtalent in Liefling en Loslappie, misloop nie. Dit is ’n musikale reis met ’n moderne sprokie propvol liefde, drama en verraad as die draaipunt.

Gratis vermaak vier hoogty in Baron van Reede-straat, die hartklop van die fees. Die Netwerk24-feeskafee is die tuiste van die ATKV-boeke-oase, ATKV-boekgesprekke en ook die gewilde Die Burger Praat Saam Diskoersreeks. Die Absa Rooiplein wat die Absa Burgersentrum en die Absa Kuierkamer insluit, sorg vir verskeie kuns-, kos- en gin-ervarings. Die Absa Kuierkamer is ook die tuiste van verskeie gespreksreekse oor kuns, sosiale kwessies en Hannes van Wyk se Koffietafelgesprekke.

Demi Lee Moore. (Foto: Maroela Media)

RSG sal weer van vroeg tot laat feesgangers vermaak voor die C.P. Nel Museum. Uitkampteater, Straatteater en ’n nuwe opwip-venue, die Santie de Jager-digtersden, sorg vir verdere vermaak vir feesgangers. Die venue is na die digter Santie de Jager vernoem. Santie, wat as die Karoo-engel beskryf word, het ’n passie vir digkuns gehad en was ’n dinamiese rolspeler in die begindae van die KKNK, wat ywerig gewerk het om die gemeenskap van Oudtshoorn by die fees te betrek.

Die Kuierbuurt is ’n bymekaarkomplek by die fees met aktiwiteite dwarsdeur die dag. Aktiwiteite vir die jongspan is ook volop by Speelbos, en by die nuwe Liplekker kan jy wyn proe en smul aan heerlike deli-produkte. Daar is ook nog baie ander kroeë en rusgebiede. Die markte trek ’n nuwe kleurvolle baadjie aan met ’n verskeidenheid demonstrasies en ander vermaak. Musiek word daagliks dwarsdeur gespeel by die Castle-verhoog en daar is ook ses groot opelug-piekniek-konserte wat wyd strek van rymklets tot swing. Beleef al jou gunstelingkunstenaars op een verhoog. Van die hoogtepunte sluit in die Ndlovu Youth Choir, Donderdagaand (26 Maart), Kaktus oppie Vlaktes wat Vrydagaand (27 Maart) vere losskud, en die fees word afgesluit met ’n spesiale Sondagmiddagkonsert op 29 Maart.

Feesgangers kan munt slaan uit die Afskop-promosie – ’n Kuierbuurt-weekkaartjie kos slegs R250 vanaf 16 Desember 2019 tot 24 Januarie 2020. Ons Goue-promosie bied ’n Kuierbuurt-weekkaartjie vir slegs R225 vir 70-jariges en ouer. Dié kaartjie is van 16 Desember 2019 tot 23 Maart 2020 beskikbaar by Shoprite/Checkers en House&Home (neem ’n ID-dokument saam).

Daar is ook ’n spesiale promosie vir Oudtshoorniete wat tussen 27 en 31 Januarie 2020 slegs by die Kunste Onbeperk-kantoor beskikbaar gaan wees. Hulle moet ’n bewys van adres saambring om ’n Kuierbuurt-weekkaartjie teen slegs R200 te koop. Die weekkaartjie sluit alle konserte, musiek en markte in wat die Kuierbuurt dwarsdeur die feesweek aanbied.

Of jy wil hoorbeelde ervaar by die Beiteltjie, wil zipline tussen die Swartberge, die sterre betrag met ’n Donkermaan-piekniek of dalk ontbyt wil eet saam met olifante, KKNK2020 bied iets vir elke smaak teen bekostigbare pryse!

Feesgangers word genooi om die volledige program by www.kknk.co.za af te laai en hulle fees voortydig te beplan. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House&Home. Die KKNK-personeel staan reg om feesgangers te help om verblyf te bespreek. Stuur gerus ’n e-pos na [email protected] of skakel 044 203 8600.

Vir enige ander navrae skakel 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Herman ·

Wonder of Steve sal mag optree?. Ek is glad.nie n steve fan ie, maar ondersteun ni e die feeste wat polities is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.