Klassieke musiek het ’n nuwe tuiste in Pretoria

Die musiek van GF Händel se Messias het deur die monument weerklink. (Foto verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gee klassieke musiek nuwe asem in die Jakarandastad. Die Pretoriase simfonieorkes het Dinsdagaand vir die eerste keer in die geskiedenis in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument opgetree en honderde mense het na hierdie uitvoering gestroom.

Die musiek van GF Händel se Messias het deur die monument weerklink en die goue stemme van die Canendo Project Choir het die simfonieorkes vergesel.

“Die atmosfeer wat die Senotaafsaal skep, het hierdie geleentheid waarlik besonders gemaak. Die akoestiek van die koor en orkes wat van onder af boontoe weergalm, maak uitvoerings soos dié uniek,” het Jaco van Staden, die FAK se projekbestuurder van musiekontwikkeling, gesê.

Die dirigent van die Pretoria Simfonieorkes, Braam van Tonder, is dit eens: “Die akoestiek in die monument het die stuk wat ons opgevoer het, baie mooi beklemtoon, wat uniek is teenoor ander opvoerings wat ons al gedoen het.”

(Foto verskaf)

Musiek is die hartklop van die Afrikanerkultuur en moet bevorder word. Die FAK meen die liefde vir klassieke musiek kom van ons Europese voorouers en Suid-Afrikaanse musikante het nie altyd op plaaslike grond die nodige geleenthede om só ’n loopbaan uit te leef nie.

“Ons het ongelooflike talent hier in Suid-Afrika, maar soveel musici gaan Europa of Amerika toe. As ons meer geleenthede soos dié aanbied, hou ons professionele musici in Suid-Afrika. So, vir my was hierdie konsert ’n groot hoogtepunt, want as ons konserte van hierdie kaliber kan uitbou tot ons eie unieke Suid-Afrikaanse karakter, is dit nie nodig vir mense om oorsee te gaan om ’n musiekloopbaan na te streef nie,” het Braam bygevoeg.

“Ek het hierdie uitvoering van die Messias besonder geniet. Die simfonieorkes, die koor en die soliste se optrede was uitsonderlik en die gehalte van die klank was uitstekend. Ek het dit regtig geniet,” het Leon Pretorius, een van die konsertgangers, gesê.

“Mense ontdek dat die monument ’n tuiste is waar hierdie tipe uitvoerings toeganklik is,” sê Jaco. “Die opkoms van hierdie konsert bevestig dat die publiek uitgehonger is vir hoë standaard klassieke uitvoerings.

Dit was ook opvallend dat die jeug en selfs kinders hierdie uitvoering besonder baie geniet het.

Anaïs van Huyssteen (8), kon nie uitgepraat raak oor hoe lekker die konsert vir haar was nie.

Braam van Tonder is die dirigent van die Pretoria Simfonieorkes. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Ons kon ongelukkig nie hierdie uitvoering bywoon nie, maar hopelik gaan daar nog baie daarvan wees in die toekoms! Ons sal dit beslis ondersteun sover ons kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.