Klawers dans eersdaags op Oudtshoorn-klavierfees

Megan-Geoffrey Prins. (Foto: Verskaf)

Liefhebbers van diverse klaviermusiek sal weer eersdaags bekoor word op die 14de jaarlikse Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.

Feesgangers kan uitsien na van die mooiste melodieë in klavierliteratuur, virtuose stelle variasies uit die Barok, die tydlose skoonheid van musiek deur legendariese komponiste en unieke kombinasies.

Van Donderdag 3 Augustus tot Sondag 6 Augustus kan klavierliefhebbers by dié winterfees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn tussen uitvoerings die geleentheid kry om met kunstenaars oor hul werk te gesels.

Die plaaslike pianis Sulayman Human speel op Donderdag 3 Augustus om 18:00 ’n program wat gebruik maak van die variasietegniek, geïnspireer deur die idee om ’n mens se deuntjie te verander. Sy program vir Let’s change tunes, sluit werke van Scarlatti, Beethoven, Mendelssohn, Schumann en Liszt in. Aandete deur die Tall Goose Restaurant is ingesluit by die kaartjiepryse.

Die veelbekroonde pianis Nina Schumann deel op Vrydag 4 Augustus 10:30 die verhoog met fluitspeler Louisa Theart vir Aquila Duo: Echoes of Arcadia. Op hulle program is musiek van Albert Roussel, Claude Debussy, Matthijs van Dijk, Carl Reinecke en Gabriel Fauré.

Nina Schumann. (Foto: Verskaf)

Hulle verken die wyse waarop dié vyf komponiste uit die 19de en 20ste eeue, geïnspireer is om op twee inwoners van die mitologiese koninkryk te fokus: Pan, die satiriese god van die natuur, en Undine, ’n waternimf. ’n Musiekgesprek word ná die uitvoering in die Banketsaal aangebied.

Schumann is ook op Saterdag 5 Augustus 14:00 op die verhoog te sien, wanneer sy in Sublime Sextets saam met agt kunstenaars te sien is in ’n program wat Brahms se eerste sekstet vir strykers in B-mol insluit, asook Ernő Dohnányi se sekstet in C-majeur, Op. 37; ’n asemrowende werk vir die ongewone kombinasie van viool, altviool, tjello, Franse horing, klarinet en klavier. Ná afloop van die uitvoering word ’n musiekgesprek aangebied.

Erik Dippenaar speel in Variations op 4 Augustus om 16:30 op die orrel en klavesimbel ’n program van virtuose stelle variasies uit die Barok, waaronder musiek van Corelli en Buxtehude, asook ’n geïmproviseerde stel variasies op die orrel. Ralitza Macheva sluit by hom aan op barokviool.

In Handel’s Roman Cantatas bied Dippenaar op die klavesimbel, saam met lede van die Kaapstad Barokorkes en soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi, ’n keur van Handel se dramatiese en uitdrukkingsvolle kanate-juwele aan. Dié uitvoering volg op hulle kykNET Fiësta-bekroonde Handel at Home-program. ’n Musiekgesprek word ná die uitvoering in die Banketsaal aangebied.

Megan-Geoffrey Prins speel in Harmony of Serenity: Arvo Pärt’s Musical Meditations op Saterdag 5 Augustus om 10:30, ’n pragtige huldeblyk wat die lewe en werk van die legendariese Estland-komponis, Arvo Pärt, vier. Tjellis Peter Martens en violis Suzanne Martens sluit by hom aan vir van Pärt se geliefkoosde werke, gevolg deur ’n musiekgesprek in die Banketsaal.

José Dias begelei op 5 Augustus om 19:00 tydens die ATKV-Galakonsert saam met die Kaapstad Opera wêreldklas soliste op klavier, wat opera-glans en betowering na die Klein Karoo bring.

Bekroonde operasterre Brittany Smith, Lukhanyo Moyake en Conroy Scott, asook opkomende, jong kunstenaar Alida Scheepers sing ’n program van tydlose hoogtepunte uit die beroemdste operas en musiekblyspele.

Amanda Tiffin, een van Kaapstad se geliefste pianiste en sangers, neem saam met haar jazz-trio, baskitaar-maestro Shaun Johannes en jong, opkomende tromspeler Langa Dubazana, die gehoor op ’n musikale vir ’n aand van jazz in My Own Song op 5 Augustus om 20:30.

Van persoonlike en sagte akoestiese stories, swewende emosionele hoogtes en eenvoudige popmelodieë omarm met jazz, tot vurige samba-ritmes en speelse scat-solo’s.

Elna van der Merwe speel op 6 Augustus 10:30 saam met Zanta Hofmeyr (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool) en Susan Mouton (tjello) in Take Four Piano Quartet twee groot werke van Johannes Brahms en Antonin Dvořák. Soos dié vier musikante, was Brahms en Dvořák ook goeie vriende. Hierdie uitvoering is ’n viering van vriendskap en die opbouende krag van musiek en word gevolg deur ’n musiekgesprek in die Banketsaal.

Die Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met addisionele ondersteuning van Le Lude, die Rosenhof Country House en die Oudtshoorn-munisipaliteit.

Die fees se verblyfborge is Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by Bon Hotels, Ravenscliff Manor, Turnberry Boutique Hotel en Wildehondekloof Game Reserve.

Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor.

Kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid. ’n Eksklusiewe Klassique-pakket bied toegang tot nege uitvoerings teen ’n totale besparing van 30%.

Vir verblyfsopsies in en om Oudtshoorn kan feesgangers ook Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.