Kleindorpie-duo maak hartsmusiek

Hugo Kloppers en JG du Plessis van Platteland Donkie. (Foto: Miandra Alberts Photography/ verskaf)

Wat het ʼn oudrugbyspeler en ʼn sielkundige gemeen? ʼn Liefde vir musiek.

Dit is wat die musikante JG du Plessis en Hugo Kloppers besef het toe hulle sowat ʼn jaar gelede saam begin musiek maak het.

Platteland Donkie, soos dié musiekduo bekend staan, se wortels lê in die strate van die klein Wes-Kaapse dorpie Rawsonville.

JG, ʼn terapeut wat pas klaar studeer het om ʼn sielkundige te word, en Hugo, ʼn oudrugbyspeler wat vandag as finansiële adviseur werk, het byna dadelik ná hul ontmoeting besef dat hulle ʼn langdurige vriendskap gaan hê.

Dié twee musiekliefhebbers was in dieselfde lewensfase toe hulle mekaar ontmoet het. Elkeen het reeds deur diep persoonlike waters geworstel voordat hulle vriende geword het, iets wat hulle vandag beskou as die rede waarom hulle so lekker saamwerk.

“Ons het vriende geword lank voordat ons saam musiek begin maak het,” vertel JG, stigterslid van Platteland Donkie.

Al het JG en Hugo eers verlede jaar saam musiek begin maak, is Platteland Donkie reeds in 2021 deur JG en ʼn voormalige lid, Adriaan, op die been gebring. Adriaan was egter baie besig en kon nie noodwendig die nodige aandag aan die groep wy nie.

Dit het egter gelei tot die vriendskap tussen JG en Hugo, wat vandag sê dat daar nie een dag verbygaan sonder dat hulle met mekaar gesels nie. Dit is ook nie net musiek wat hulle aan mekaar bind nie, maar eerder ʼn hartsvriendskap wat deur diep gesprekke en hartroerende oomblikke gesmee is.

JG glo dat Hugo hom inspireer om ʼn beter musikant en kunstenaar te wees.

“Musiek was nog altyd vir my ʼn passie, maar ek het nooit eintlik in myself geglo nie. Ek was vreeslik bang om voor mense te speel,” sê hy.

“Ek en Hugo is ʼn goeie combo – ons het ons klank gevind.”

Dié groep spog al met ʼn rits liedjies agter sy naam. Dit sluit onder meer “Die Ou N1”, wat ook die groep se oorspronklike naam was, en “Ek smeek jou” in.

Al is dié twee mans se vriendskap eers veel later in hul lewe gesmee, het hulle beslis ʼn paar raakpunte wat hul paaie uiteindelik laat kruis het.

Albei het as kinders ʼn liefde vir musiek ontdek, en albei het later aan die Universiteit Stellenbosch studeer, hoewel hulle mekaar nooit in dié studentedorp raakgeloop het nie.

Hul verwysingsraamwerk is egter dieselfde, aangesien hulle na aan mekaar in ouderdom is, en uit dieselfde agtergrond kom.

“Dit gaan nie net vir ons oor die groep nie. Dit gaan oor die samesyn en ons liefde vir musiek, dit is ons eie kuns,” sê JG.

Hugo beaam dié mening, en glo dat dit ʼn vorm van selfuitdrukking ook is.

“Musiek is ʼn lekker uitlaatklep. Vir die vier uur waartydens jy speel, dink jy aan niks anders nie. Dit is vir ons albei ʼn groot passie, en ons word ook natuurlik beter met oefening.”

Hierdie uitkyk op musiek het ook ʼn beduidende invloed op hoe JG en Hugo hul musiekloopbane sien. Elkeen sê dat hoewel dit aanloklik klink om voor duisende gehoorlede te sing, is dit die kleiner, opgewekte gehore wat hul passie vir musiek van voor af aan die brand laat slaan.

“Mens kan vinnig groot droom,” verduidelik Hugo, “maar ons moet vir onsself wesenlike doelwitte skep wat gaan inpas by ons lewe.”

Vir dié musiekduo is dit belangrik om getrou te bly aan die kern van die rede waarom hulle die groep begin het: ʼn liefde vir mense en musiek.

“Ek doen hierdie goed omdat dit vir my lekker is, en omdat ek graag my kuns met mense wil deel. Ons is nie afhanklik van ʼn musieksalaris nie, ons elkeen verdien ʼn inkomste. Ons doen dit omdat ons lief is vir musiek.”

Luister na Platteland Donkie se “Ek smeek jou” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.