Koos van der Merwe met liedjiebord vereer

Dr. Danie Langner en Koos van der Merwe tydens die onthulling van “Houtkruis” se liedjiebord. (Foto: verskaf)

Die kaalkop rasperstemsanger, Koos van der Merwe, is Donderdag deur die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ʼn liedjiebord in hul Liedjietuin by die Voortrekkermonument vereer.

“Houtkruis”, die liedjie wat Koos destyds saam met die Christelike musiekgroep, Prophet, uitgereik het, pryk nou as die jongste toevoeging tot die liedjietuin.

“Jy is ʼn woordkunstenaar, ʼn woordmeester,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, tydens die onthulling van dié liedjiebord vir Koos gesê.

“Jy het ʼn ongelooflike omgang met Afrikaans en gebruik die taal op ʼn meesterlike wyse. Jy verwerklik die potensiaal van Afrikaans op ʼn meesterlike manier.”

“Houtkruis” is ook nie die enigste liedjie van Koos wat voortaan by die Voortrekkermonument ten toon gestel sal word nie.

“Dan moet ek glo” en “Naggebed”, liedjies wat ook deur Koos neergepen is, is op granietblaaie in die Voortrekkermonument se nissietuin verewig. Dié twee liedjieborde vorm deel van die monument se plan om dié tuin te omskep in ʼn tuin van vertroosting en liefde.

“Dit is vir my ʼn wonderlike voorreg om hier te wees vanaand,” het Koos tydens die verrigtinge gesê.

Hy het die oorspronklike bladmusiek van “Houtkruis” aan Danie oorhandig ter skenking aan die Voortrekkermonument se argief.

“Dit sal wonderlik wees as my kleinkinders eendag deur die tuin kan stap en kan sê: ‘Dit was my oupa se lied’.”

Koos het deur die jare heen as predikant, liedjieskrywer, digter, solokunstenaar en rubriekskrywer gewerk. Hy is veral bekend vir sy 2013-vertaling van Leonard Cohen se werk.

Hy het sy teologiese kwalifikasie aan die Auckland Teologiese Seminarium verwerf. Daarna het hy sy honneurs- en meestersgraad in teologie en sy doktorsgraad in sielkundige opvoedkunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) voltooi.

Hy het al meer as 50 000 albums in sy loopbaan as kunstenaar verkoop.

Die FAK Liedjietuin, wat vanjaar reeds sy tiende bestaansjaar vier, is toeganklik vir die publiek en dien as opelugmuseum vir Afrikaanse musiek en die kunste.

“ʼn Bord in die Liedjietuin is nie ʼn spesiale prys of iets wat mens verower nie, dit is ʼn danksegging vir bydrae tot Afrikaanse musiek,” het Danie verduidelik.

Die Liedjietuin is aanvanklik met 25 tydlose Afrikaanse liedjies begin, sê Danie. Dié tuin spog egter vandag met meer as 50 liedjieborde. Kunstenaars soos Rina Hugo, Bles Bridges, Gé Korsten, Theuns Jordaan, Piet Smit, Jak de Priester en Chris Chameleon word in dié tuin verteenwoordig.

“Elke onthulling is ʼn getuienis van die lewenskrag van ons taal, kultuur, en ʼn diep liefde wat ons sangers en kunstenaars vir hierdie taal het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.