Kunstenaar van die week: Juanita du Plessis

Juanita du Plessis

Juanita du Plessis

Juanita du Plessis is Suid-Afrika se top-vrouekunstenaar. Dié posisie het sy met verkope van meer as 1,5 miljoen albums en talle toekennings bevestig.

Juanita, ’n boorling van Namibië, het bekend geraak met haar liedjie “Ska Rumba” en sedert haar debuutalbum in 1998, Juanita, het sy van krag tot krag gegaan. Sy was ook onlangs aanbieder van die gewilde reeks op kykNET, Country Hart, waarin sy haar voorliefde vir country-musiek met kykers gedeel het.

Haar jongste album, Toe staan die wêreld stil, het vinnig platinumstatus verkry en weer eens bewys waarom sy Suid-Afrika se popkoningin is. Sy is ’n vrou met sterk Christelike waardes, gesinsvrou en ma vir haar drie kinders, Ruan, Mario en Franja.

Vyf vrae aan Juanita du Plessis

  1. Juanita waar sien jy jouself oor tien jaar?

Oor tien jaar hoop ek ek kan steeds doen waarvoor ek lief is – musiek maak wat by mense aanklank vind. Daar is nog baie wat ek wil doen, so ek hoop ek word gespaar om alles wat nog voorlê, in te pas.

  1. Kan ons in die toekoms ’n vollengte Engelse album verwag?

My eerste album was ’n vollengte Engelse album, maar om in my moedertaal te sing en te skryf bly ’n absolute voorreg! Ek is egter baie lief vir country-musiek, so ’n huldeblykalbum is dalk nie ’n slegte plan nie.

  1. Waar, buiten Suid-Afrika, sou jy graag wou woon in die wêreld?

Jong, Suid-Afrika en Afrika is maar in my bloed. Ek dink dis maar waar ek sal bly, maar ’n perdeplaas in Texas in die VSA sal nogal gaaf wees.

  1. Hoe help jou hegte gesinsbande jou in hierdie bedryf? Dis ’n voorreg wat baie ander kunstenaars nie het nie.

My gesin is vir my nog altyd ’n prioriteit. Ek is bevoorreg dat ons hele gesin in die bedryf werksaam is. Dit help beslis, want elkeen ken die uitdagings, die hoogte- en die laagtepunte en ons vul mekaar aan in alles. Ons is bly en dankbaar vir die hoogtepunte en ondersteun mekaar deur die laagtepunte en ons sien mekaar elke dag.

  1. Saam met watter internasionale kunstenaar sou jy graag nog wil opneem?

Daar is ’n lys, maar ek is nog altyd ’n Shania Twain-bewonderaar, so dit sal die toppunt wees!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marianne ·

ONS IS LIEF VIR JOU JUANITA! MAG JY VAN KRAG NA KRAG GAAN – JOU DIAMANT PLATE TOEKENNING WAG VIR JOU….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.