Kunstenaars met gestremdhede hou eerste konsert van sy soort

Vernon Barnard (Foto: Verskaf)

Vyf van Suid-Afrika se toonaangewende sangers, almal met gestremdhede, tree Saterdag by die Vredenheim-wynlandgoed in Stellenbosch op om gemeenskappe te verenig.

Die Liefde-in-gestremdheid- (LIG-)konsert is die eerste van sy soort en word deur Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap aangebied.

Kunstenaars soos Mathys Roets, Martelize Brink, Sumarie Jordaan, Prop (Drihan du Plessis) en Vernon Barnard gaan by dié geleentheid optree.

Volgens Alisha de Lange, streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap, word die konsert aangebied om gemeenskappe saam te bring en mense bewus te maak van mense met gestremdhede. Hulle wil die boodskap oordra dat mense met gestremdhede waardige burgers van die samelewing is en elkeen sy eie waardes en talente het om by te dra.

“Ondanks mense met gestremdhede se aangepaste leefstyl veg hulle daagliks dapper voort. Hulle hou moed, loop voor en gee die pas aan. Dit is dikwels ’n inspirasie vir ons as gesonde mense wanneer ons ons eie uitdagende omstandighede in ʼn aangepaste wêreld moet oorleef. As hulle dit kan doen, kan mense sonder gestremdhede dit ook doen,” sê sy.

Helpende Hand skep op dié dag ook ʼn platform vir mense met gestremdhede om hul selfgemaakte produkte by ʼn kunsmark te verkoop. ʼn Hoogtepunt waarna almal kan uitsien, is ʼn uitstalling van die Vereniging van Mond- en Voetskilders. Daar gaan ook talle kosstalletjies wees. Besoekers kan vooraf ʼn heerlike piekniekmandjie by die landgoed bestel om by die fees te geniet.

Kaartjies kan teen R170 per volwassene en R100 per kind by Quicket gekoop word. Slegs ʼn beperkte getal is beskikbaar. Vir meer inligting, bel Alisha by 082 923 1438.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.