Kursus vir enigiemand wat graag wil liedjies skryf

Elsje du Toit het  verlede jaar die liedjieskryfkursus  bygewoon, (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Musiek is ʼn universele taal wat harte kan aanraak en bemoediging kan bring as dit die regte ore bereik.

Die kuns is egter om jou boodskap só te verpak dat soveel mense moontlik dit hoor en met ander deel.

As jy nog altyd ʼn liedjie wou skryf of dalk hierdie vaardigheid wil opknap is dit nou jou kans!

Maroela Media en Akademia se skryfskool, Skryfnet, spog met ʼn opwindende kursus wat gemik is op enigiemand wat graag betekenisvolle musiek wil skep.

SKRYF ’N LIEDJIE, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, is ʼn unieke leerprogram wat op 6 Mei 2024 aanlyn afskop en op 7 en 8 Junie 2024 afsluit met ʼn twee dag praktiese werksessie by Maroela Media se kantoor in Pretoria.

Die inhoud van die kursus is ontwikkel deur Clive Ridgway en is verwerk en word aangebied deur die gewilde musikant en liedjieskrywer Deon Meiring.

deon-meiring-1.jpg

Deon Meiring. (Foto: Blyde Smit)

Deon het op laerskool sy eerste liedjies begin skryf. Hy’t gedink dit gaan help met sy sukkelende romantiese loopbaan. Dit het nie, maar hy’t nogtans aanhou skryf. Vandag is hy getroud en sy liedjies word regoor Suid-Afrika gespeel met sy gevestigde solo-projek en groepe Glaskas en Dans Dans Lisa. Dié begaafde musikant se musiek is al in rolprente en op TV gebruik en hy het al talle opkomende liedjieskrywers begelei om hulle vaardighede te verfyn. Hy skryf en bring ook steeds gereeld nuwe musiek uit.

Tydens die vier weke aanlyn sessie sal Meiring deelnemers begelei om hul idees om te skakel in treffende lirieke.

“By verlede jaar se liedjieskryfkursus het ons gesien hoe ʼn hele paar liedjies soos skoenlappers uit glasbottels vrykom. Daar was ook ʼn paar ruspes wat ons moes voer of waarvoor ons geduldig moes wag. Ek het aanvanklik liedjies begin skryf omdat ek gelukkig glad nie geweet het dit kan moeilik wees ook nie. Elke keer wat ek die kans kry om saam met nuwe liedjieskrywers ʼn pad te stap leer ek weer die gewoonte van sukkel af. Dan beleef ons saam hoe toweragtig dit kan wees om daai krabbels in die notaboekie ʼn kans te gee om gesing en gehoor te word. Sommige van die skrywers wat verlede jaar opgedaag het se liedjies is selfs nou beskikbaar op ons fone, radio en TV. Ek sien uit om hierdie jaar nog ʼn klomp liedjies en hulle skrywers te leer ken,” sê hy.

Tydens die naweek se kontaksessie, waartydens hy bygestaan sal word deur die gewilde sanger Jako Meyer, sal al die nuwe skeppings getoonset en afgerond word tot ʼn werkbare liedjie wat voorgelê kan word vir opname. Die gesogte boetiek-publisiteitsagentskap Starburst Promotions sal ook tydens hierdie sessie kom gesels oor die belang van behoorlike bemarking van jou musiek.

Meyer is ʼn gewilde sanger en musikant wat buiten vir sy sololoopbaan al deel was van verskeie groepe soos Flip a Coin, Die Rotweilers, Moses Metro Man en Die Wyndigters (saam met Deon Meiring). Hy het al verskeie radiotreffers uitgereik, asook twee ateljee-albums.

Die kunstenaar Jako Meyer, solokunstenaar en lid van die musiekgroep Moses Metro Man. (Foto: August Photography)

Hy voeg by: “Dis vir my ʼn groot voorreg om weer deel te wees van vanjaar se kursus. Verlede jaar was daar soveel talent, wat met ʼn bietjie leiding en aanmoediging hul eie grense verskuif het om beter skrywers te word. Ek sal aanbeveel dat enige skrywer hierdie kursus sal aangryp om die selfvertroue vir liedjieskryf na ʼn volgende vlak te vat.”

Deelnemers sal ook die kans kry om hulle musiek met die res van die groep te deel om ʼn gesellige koolstoof en daar gaan ook ʼn prys wees vir die beste liedjie.

Skryfnet se eerste liedjieskryfkursus het in Mei 2023 plaasgevind en teen die einde van die jaar ʼn liedjie en musiekvideo, Om myself te vind, opgelewer uit die pen van die 21-jarige Elsje du Toit. Nog ʼn deelnemer, Weco van Basten, het in Februarie 2024 die rock-snit Lê my neer onder sy Verhoognaam, Victor Bravo, uitgereik.

As jy ook graag jou liedjieskryf- en musiekdrome waar wil maak, bespreek hier. Deelnemers wat die kursus voltooi, ontvang ʼn sertifikaat van Akademia.

Inskrywings sluit op 3 Mei 2024. Die kursus kos R5 300 per persoon en sluit middagetes en ʼn braai op die Vrydagaand van die praktiese sessie in. Vervoer en verblyf moet egter self gereël word en ʼn lys van slaapplekke in die omgewing sal met deelnemers gedeel word.

Vir meer inligting, besoek www.skryfnet.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Skryfnet is ʼn projek deur Akademia en Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.