Video: Aspirant-liedjieskrywers geslyp tydens Skryfnet-kursus

‘n Groep aspirant-liedjieskrywers het onder leiding van Deon Meiring (heel voor) en Jako Meyer (links voor) aan die kursus deelgeneem. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

ʼn Groep aspirantliedjieskrywers het Saterdag by Maroela Media aangemeld vir die eerste Skryf ʼn Liedjie-kursus wat deur Skryfnet aangebied is, onder leiding van die sanger, musikant en liedjieskrywer, Deon Meiring. Die musikant Jako Meyer het ook as mentor opgetree.

Dié kursus, wat deur Deon aangepas en verwerk is uit materiaal wat deur Clive Ridgway ontwikkel is, se einddoel was om elke deelnemer toe te rus met ʼn splinternuwe en betekenisvolle liedjie uit sy of haar pen, wat tydens ʼn praktiese kontaksessie getoonset en verder afgerond sou word.

Die eerste been van die kursus het reeds in Mei vanjaar aanlyn plaasgevind. Na afloop van die aanlyn sessie, het Deon en Jako en die groep deelnemers die naweek by Maroela Media in Pretoria bymekaargekom vir ʼn naweek van musiek en samesyn.

Daar was ook tyd vir ʼn gesellige braai om die kampvuur in die FAK-liedjietuin vir almal om mekaar beter te leer ken en saam op kitare te tokkel en te sing.

Aan die einde van die kursus het elke deelnemer met ʼn afgeronde liedjie, party selfs twee, en ʼn sertifikaat weggestap.

Die aspirant-liedjieskrywers kuier en skep saam. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Omdat die liedjieskryfkursus lank reeds ʼn groot droom van die Skryfnet-span is, kan ons nie wag om dit in komende jare te herhaal en nog aspirant-liedjieskrywers en -sangers ʼn kans te gee om hulle passie uit te leef nie.”

Die deelnemers aan die kursus is ewe gaande oor die ervaring. Volgens Kay Strydom sal sy die kursus sterk aanbeveel aan enige aspirant-liedjieskrywers wat meer oor dié kunsvorm wil leer.

“Dit was ʼn ongelooflike ondervinding. Ek het baie geleer en het nuwe maniere uitgevind oor hoe om die kreatiewe denke te prikkel. Ek kyk nou met nuwe oë na lirieke en besef dat geen liedjie maklik is om te skryf nie.”

Fouché Wessels sê dit was ʼn verrykende ervaring en die hoogtepunt was ongetwyfeld die praktiese sessies.

“Dit was werklik ʼn voorreg om ʼn bietjie saam met die ander deelnemers te gesels, en veral met Deon en Jako, oor liedjieskryf. Om hulle te ontmoet was regtig vir my ʼn besonderse voorreg, en om saam met hulle om ʼn vuur te sit en liedjies te sing in die FAK-liedjietuin was net so besonders.”

Dr. Pierre Cronjé, nog ʼn deelnemer, sê die kursus was ʼn lekker uitdaging en boonop groot pret.

Jako Meyer, mentor van die liedjieskryfkursus. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Al het die aanlyn gedeelte my dikwels in myself laat twyfel, het die naweek se praktiese sessie daarvoor opgemaak. ʼn Groepie onbekende aspirante kom een Vrydagoggend bymekaar, ken mekaar van geen Adam af nie, maar mettertyd begin ons saam kuier, saam dink en saam skep.

“Teen Saterdagmiddag het elkeen se skepping min of meer begin vorm aanneem. Dankie vir Maroela Media wat ʼn kreatiewe ruimte beskikbaargestel het en dankie aan twee plat-op-die-aarde aanbieders soos Deon en Jako, wat deurgaans eerlik en taktvol was, en ons voortdurend aangemoedig het.”

Deon sê hy is verstom deur die uiteenlopende ouderdomme van die deelnemers wat vir die kursus ingeskryf het.

“Dis ’n voorreg om te sien hoe mense op verskillende plekke in hulle lewens almal die behoefte deel om te skep, te skryf en musiek te maak. Die honger en leergierigheid van die deelnemers het my ook van voor af geïnspireer om aan te hou om my eie kreatiwiteit ook uit te leef.

“Party deelnemers het dit vir die eerste keer gewaag om te skryf en ander het hulle ervaring nou verder uitgebrei en hulleself toegelaat om nuwe praktyke deel van hulle proses te maak.

“Ek is baie dankbaar dat hulle so bereid was om hulle kreatiwiteit uit te leef en aan te vuur. Dit was ’n groot voorreg om so pad saam met die deelnemers te stap en hulle te leer ken as skrywers en as mense.”

Jako sê dit was ʼn voorreg om saam met Deon die mentor van die kursus te wees. “Die passie en talent van die deelnemers loop oor, en ek dink dit is belangrik dat ons daaraan moet aandag gee.”

Besoek skryfnet.co.za of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor toekomstige kursusse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.