Kyk: Dapper Media maak Jennifer Zamudio se jongste musiekvideo

Jennifer Zamudio het in April vanjaar tydens die inperking weens die Covid-19-pandemie besluit om vir 12 ure aaneen reg om haar huis te stap om ondersteuning te wys vir die mediese personeel en ander noodsaaklike werkers wat dié virus help bestry.

Om haar te beloon vir haar ondersteuningspoging het Christie Schutte van Startrax vir haar ʼn gratis opname aangebied en daar was vir Zamudio geen twyfel dat sy die snit “Dalk” wou opneem nie.

Die liedjie is geskryf deur Tertius BC Pretorius, wat ook die snit “Altyd myne” geskryf het wat in Zamudio se 2018-album Goud is my woorde verskyn.

“Dalk” is reeds op radiospeellyste reg oor die land te hoor en het onlangs die no. 1-posisie op die Radio Rosestad Top-20 gehaal.

“Dit gebeur min dat ʼn liedjieskrywer in ons bedryf ʼn liedjie vir iemand anders skryf wat hulle soos ʼn handskoen pas, en Tertius het in ʼn kort bestek van tyd vir my ʼn liedjie geskryf wat my die geleentheid gee om dit met my stem en met oorgawe op die verhoog te vertolk,” sê Zamudio.

“Die liedjie se lirieke is baie gepas vir die huidige omstandighede waarin ons onsself tans bevind, in ʼn tyd waarin baie mense skielik voel hulle is nie meer goed genoeg nie. Mense het begin introspeksie doen en is baie krities op hulself. Hierdie mense sal aanklank vind by ‘Dalk’.”

Zamudio het ook in 2019 in ʼn Dapper Media-kompetisie ʼn musiekvideo losgeslaan en wou dié spesiale prys bêre vir ʼn liedjie wat haar na aan die hart lê. Toe “Dalk” uiteindelik die lig sien, het sy dadelik geweet sy wil van dié snit ʼn video maak.

Conrad Hero van Dapper Media het die regie vir die musiekvideo behartig. Die video is in Pretoria geskiet. Zamudio vertel sy het die konsep van die video in die hande van die span by Dapper Media gelaat.

“Dit is ʼn ongelooflike filmspan en dit was baie lekker om saam met hulle te werk en hul visie te deel. Die video is in Pretoria geskiet en was ʼn energieke dag vol uitdagings.

“Die regte woorde ontbreek om die liedjie ten volle te beskryf, maar dit raak diep aan jou binneste. Dit roer jou met swaar emosie en terselfdertyd ʼn tikkie opgewondenheid.”

“Dalk” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Volg Zamudio op Facebook of op haar webwerf.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Dalk”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.