Lindi en Wynand Delport: Tyd vir iets anders

Lindi en Wynand Delport van die musiekgroep Anders, saam met hulle dogter Karmin, geniet Kanada se sneeu. Foto: Verskaf.

Deur Yolanda Wessels

Lindi en Wynand Delport, ook bekend as die Christelike musiekgroep Anders, het onlangs saam met hul 4-jarige dogtertjie, Karmin, na Ontario in Kanada verhuis. Dié twee het ’n pos by die New Hope Church Niagra in St. Catharines in dié land aanvaar.

Die Delports is hul hele lewe lank nog betrokke by die kerk – Wynand het al op 11-jarige ouderdom by ’n gemeente kitaar op die verhoog gespeel. Op 17 het hy ’n pos as aanbiddingsleier by Charis (nou Hillsong) in Pretoria aanvaar.

“Ons harte was nog altyd in geestelike musiek en ons eerste album was ook ’n geestelike album. Ons loopbane het begin in die geestelike wêreld en in die kerk en dit was nog altyd ons groot passie.”

Hul grootste droom was om oorsee te gaan met hul musiek en passie vir aanbidding en nadat die gesin twee jaar gelede en weer in 2019 in Australië opgetree het, is daar besluit om hul droom om oorsee te werk, te laat realiseer.

“ ’n Mens kan op die Here vertrou, maar jy moet van jou kant af ook iets doen. Die lewe is ’n avontuur en ’n mens leef net een keer en ons wou dit graag ervaar om oorsee te woon en werk.”

Hulle het begin kyk of daar enige oorsese gemeentes is wat op soek is na aanbiddingsleiers, want dit sou die maklikste skuif wees.

Die eerste aanbiddingsleierpos wat opgekom het op Google, was die New Hope Church in Kanada.

“Ons het vir hulle ons CV’s en mediapakkie met liedjies en foto’s gestuur en binne slegs drie uur het hulle ons gekontak. Kort daarna het ons met die kerkleier op Skype gesels daarna het alles vinnig ’n realiteit geword.”

Die Delports is voorlopig vir ‘n jaar in Kanada waar hulle ‘n plaaslike gemeente met geestelike musiek sal bedien. Foto: Verskaf.

Wynand het die amptelike pos aanvaar en Lindi staan hom by met sang en die opstel van die Sondagdienste en Kers-, Paas- en vroueproduksies.

Aanvanklik was hulle nie seker waar hulle sou woon nie. Die huurhuis wat hulle graag wou hê, was ’n was bietjie bó hul vuurmaakplek. Hulle het dit in die Here se hande gelos en ’n paar weke voordat hulle moes gaan, het die eienaar van die huis wat hulle so graag wou hê, afgekom met sy prys en hulle kon dit huur.

“Die proses om te trek het baie vinnig gebeur. Dit is ’n makliker proses daar om alles gedoen te kry en jy word baie vinnig gehelp. Ons het met niks gekom nie en alles in Suid-Afrika verkoop en tonne goed weggegee, wat ’n lekker gevoel was. Dis ’n pragtige plek en ons is byna klaar ingerig.

“Ons is stomgeslaan deur die Kanadese se gasvryheid. Ons het ’n hele kombuis se voorraad gekry en mense is só vrygewig en bereid om te help. Die kerkmense kom groet en laat ons werklik welkom voel en bied hulp en meubels aan. Mense is baie opreg.

“Dit is nogal belangrik om ’n ondersteuningsnetwerk hê, dit maak die oorgang soveel makliker. Dit voel klaar of ons ’n familie hier het en is welkom in hul huise, eet saam en word uitgenooi. Dit laat ’n mens weet daar is vrede en dat die Here se hand daarop rus. Ons weet die Here se seën is op ons. Ons het ’n dekade lange loopbaan waar ons die voorreg gehad het om musiek te maak, in Suid-Afrika agtergelaat.”

Al was dit ’n droom, was dit nooit om ’n skuif te maak om weg te kom uit Suid-Afrika nie. Hulle was baie lief vir hul lewens in Suid-Afrika, maar dit was ook ’n droom om Engelse musiek te kon skryf vir ’n wyer spektrum en gehoor. Vir nou wil hulle tyd neem om tuis te word in hul nuwe land.

“Ons beskou die kerk as ons familie. Ons het ’n Afrikaanse aanbiddingslied wat ons baie graag wil vrystel, maar ons moet net eers ons voete hier vind.”

Hul familie was deurentyd ongelooflik ondersteunend.

“Karmin is vier jaar oud en ons gesin is baie na aan al die oumas en oupas en dit was baie moeilik, maar almal het ons ondersteun. Die moeilikste deel van die proses was beslis om almal te groet, maar ons beplan sommer al klaar kuiers! Daar was baie trane in die weke op pad hierheen en nog soms as ons mekaar bel, maar ons en ons familie het vrede in ons harte omdat ons hier is. Dit is nog vroeg omdat ons nog net ’n paar weke hier is en ek weet wanneer ek my ma regtig gaan begin mis, gaan dit maar moeilik wees. Dis definitief die moeilikste deel omdat dit nooit maklik is om jou mense te groet nie.

“Dit was nét so moeilik om ons band te groet. Ons speel al die afgelope twaalf jaar saam met Jason Moser (trom) en Rixi Roman (baskitaar). Ons gaan dit verskriklik mis om saam met hulle te sing en op te tree. Maar soos die gesegde sê, “Never say never” en ons hoop om die een of ander tyd in die toekoms weer saam met hulle op te tree.”

Lindi Delport van die musiekgroep Anders sê die proses om te trek het baie vinnig gebeur. Foto: Verskaf.

Lindi voel dat mense in Suid-Afrika baie bevoorreg is om groot te word met die Here en om Hom te ken.

“Mense en kerke om jou ken en dien God. In Kanada is dit nie so nie en ons voel bevoorreg om ’n verskil te maak en siele te wen vir die Here. Ons bekendheid en loopbaan was ’n groot seën en voorreg, maar ons glo hierdie is die roeping wat die Here in ons lewens gesit het en ons is baie opgewonde daaroor.”

Wynand het sy biltongmaker en kassie ingepak en gaan biltong maak en die Kanadese moet leer wat ’n ordentlike braai is – sodoende sit hulle hul Suid-Afrikaanse tradisies voort.

“Ons glo in ons harte dat ons regtig gelukkig sal wees. Ons vlug nie uit ons land nie, ons het bloot ’n geleentheid aangegryp. Ons is wel oop vir waarnatoe die lewe ons neem, maar vir nou is ons hier.”

Vir nou is die gesin voorlopig vir ’n jaar daar en dan sal hulle weer hul kontrak moet hernu. Hulle is tans besig om aansoek te doen vir permanente verblyf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

dis so jammer dat julle moes gaan, ek sal die musiek en klank van julle in die gemeente baie mis, selfs julle liedjies en musiek wat julle gemaak het, sterkte, voorspoed en moenie van ons vergeet nie
ek dra julle ook op aan Jesus om julle gelukig en veilig daar, met julle sal wees

Kiewiet ·

Ja nee, sterkte daar. Sien julle binnekort terug in SA. Julle sal nes ons kerk stigter, wat in Amerika sit, dit nie in Canada maak nie. Maar…. sterkte ons hoop julle kom terug met n paar minder stresvolle liedjies in julle arsenaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.