Loki Rothman: ‘Vir die eerste keer weet ek regtig wat ek wil doen’

Loki Rothman (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die bekende vervaardiger, sanger en musikant Loki Rothman het pas die musiekvideo vir sy eerste enkelsnit vir sy Afrikaanse debuutalbum vrygestel.

Hoewel Rothman reeds ʼn album en snitte in Engels agter sy naam het, is hierdie een sy eerste in Afrikaans.

Rothman sê hy het sy eerste enkelsnit, “Storie”, reeds ʼn paar jaar terug geskryf. Dit gaan oor ʼn liefdesverhouding wat nie uitwerk soos die persoon gehoop het nie.

“Ek dink ons almal was al op so ʼn plek in ons lewe, waar jy in ʼn verhouding was met iemand wat jy gedink het ‘die een’ is, en dan werk dit nie uit nie,” sê hy.

“Mens dink gewoonlik nie hieroor as jy daardeur gaan nie, maar jy dink daaraan as jy alleen in die bed lê en dit is stil om jou. Dis hoekom die eerste vers begin met: ‘Dis laat in die aand, stoksielalleen, sukkel om te slaap. Dit voel of die tyd stil staan. Wanneer het als so deurmekaar geraak?’”

Rothman sê sy liedjie word geïnspireer deur sy persoonlike ervaring, maar nie noodwendig sy huidige ervaring nie.

“Ek het hierdie liedjie so drie jaar gelede reeds geskryf, so dit is wel persoonlik, maar nie noodwendig ʼn verteenwoordiging van wat tans in my lewe aangaan nie. Ek komponeer ook musiek vir films, en baie keer sien ek iets op die skerm wat my musiek inspireer.”

Rothman sê hy het so lank geneem om ʼn Afrikaanse album uit te bring, omdat hy te lank te veel gedoen het en daarom nie kon uitmaak wie hy as kunstenaar wou wees nie.

Met hierdie album wil Rothman fokus op homself en sy akoestiese kitaar. Hy wil eerlike, rou liedjies sing wat net so goed óp die verhoog as ván die verhoog klink.

Loki Rothman saam met Laurika Rauch (Foto: Facebook)

“Ek het alles uitgetoets en uitgekom waar ek nou is. Ek voel of ek nou vir die eerste keer regtig weet wat ek wil doen, en nou kan ek myself so vestig,” sê hy.

Hy sê dit voel ongelooflik om aan ʼn Afrikaanse album te werk en hy is opgewonde dat mense dit gaan hoor. Hy beoog om dié album vroeg in 2020 bekend te stel.

Rothman verklap dat hy spesifiek opgewonde is oor twee liedjies: een wat hy saam met Francois van Coke sing en een wat hy saam met Laurika Rauch opgeneem het. Rothman het self albei liedjies geskryf.

“Ek wil so graag hê mense moet die album hoor, want dit kom nou al so ʼn lang tyd. Daar is baie opwindende goed op. Dis ʼn nuwe avontuur en pad wat ek nou stap wat ek eintlik al lankal wou gedoen het.

“Die belangrikste vir my is om iets te skep waarvan mense hou. Die groot droom is dan dat mense daardie lirieke by ʼn groot vertoning na my toe terugsing. En dat iemand anders voel soos jy gevoel het toe jy die liedjie geskryf het. Dit is hoe jy ʼn verhouding bou met jou gehoor op die ou end,” sê hy.

Rothman se suster, Margot Rothman, het ook onlangs bekend geword vir haar weergawe van Francois van Coke en Karen Zoid se bekende “Toe vind ek jou”-liedjie wat in die nuwe rolprent Fiela se kind gebruik is.

Die broer-en-suster-duo het ook al verhoë gedeel en Rothman sê dit is vir hom baie lekker om haar langs sy sy te hê.

“Storie” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WIEBO ·

Hoog tyd dat hy op sy ouderdom besluit het wat om te doen………………………….

Sandra ·

Daar isense wat weet wat hulle Wil doen en steeds swakker af is. Hy het nie noodwendig nie geweet wat om met sy lewe te maak nie, hy het net bloot sy niche gevind. Die kind blink uit in wat hy doen, gee hom erkennimg daarvoor. Of is jy jaloers?

Alexz ·

Loki is uiters begaafd en talentvol in wat hy doen. Leef elke dag voluit met dìt wat die Skepper jou mee geseën het!
Ek ken baaaaie grysbaarde wat vandag nog nie weet wat hulle roeping is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.