Luister: 1914 inspireer eietydse Kerslied

Andre Schwartz, Elana Afrika-Bredenkamp en Coenie de Villiers. (Foto: Verskaf)

Met die roerende liedjie “Kersfees 1914” wil Coenie de Villiers, André Schwartz, Elana Afrika-Bredenkamp en die Mzanzi Jeugkoor hierdie feesseisoen met ʼn boodskap van vrede en guns inlui.

“Tydens Kerstyd het ons almal die taak om na ander mense om te sien. Trouens, ons moet dit die hele jaar deur doen. Ek dink wel veral in die Kersgety is dit ons verantwoordelikheid om uit liefde, en nie uit plig uit nie, te kyk waar ons ander mense kan help,” sê Coenie.

Kies vrede, omgee dié Kersfees

Die liedjie is deel van ʼn welwillendheidsinisiatief wat mense wil aanmoedig om organisasies en projekte te ondersteun wat na hulpbehoewende mense omsien.

“Een manier waarop ons as kunstenaars ʼn verskil in iemand anders se lewe kan maak, is om alle regte en inkomste wat die lied sou oplewer, prys te gee deur die geld aan mense te skenk wat dit regtig nodig het.

“Ek hoop dat luisteraars wat by die lied aanklank vind of vir wie dit iets beteken hulle hand in die sak sal steek en ook te kyk waar en wie hulle hierdie Kerstyd kan ondersteun.”

“Kersfees 1914” kom uit Coenie se pen en dit is deur die musiekvervaardiger Mauritz Lotz opgeneem en verwerk. Die boodskap van die lied is dat vrede ʼn keuse is.

“As ons hierdie Kerstyd vrede en medemenslikheid kan kies, dan dink ek dit is die regte keuse en die beste geskenk vir die wêreld, ons omgewing en jou naaste.

“Kom ons probeer om ʼn boodskap van hoop die wêreld in te stuur, want ek dink dit is een van die grootste geskenke wat ons onder almal se kollektiewe Kersboom kan sit.”

Kersfees 1914-dokumentêr

ʼn Gelyknamige dokumentêr, wat deur Esté de Klerk saamgestel is, neem ons terug na die tydperk van drie dae in 1914 wat as die Kersfees-wapenstilstand bekend staan.

Dit was sowat vyf maande nadat die Eerste Wêreldoorlog tussen die Sentrale en Geallieerde magte uitgebreek het. Op 24 Desember 1914 het ʼn heilige stilte oor die slagveld aan die westelike front in Europa neergedaal en dié vredesooreenkoms tussen vyande is nog nooit weer in die geskiedenis herhaal nie.

Mauritz Lotz en Coenie de Villiers werk aan ‘Kersfees 1914’. (Foto: Verskaf)

“Die verhaal het my aangegryp,” begin Coenie vertel. “Veral nou in die aanloop tot Kersfees en met die Russiese inval en die gepaardgaande oorlog hoog op die agenda. As die planeet ooit ʼn les nodig gehad het, is dit die les van Kersfees 1914.”

Vertellings word verweef met byklanke, Coenie se lied en bydraes deur die musikante. Hy sê die saamkom van kunstenaars was ʼn organiese proses.

Nadat die lied voltooi is, het Coenie dit vir André gespeel. Elana, met wie Coenie goed bevriend is, het ook ingestem om deel van die projek te wees toe hy haar vra. Volgens hom was dit ʼn gelukskoot dat die jeugkoor ook beskikbaar was om dit saam met hulle op te neem.

“Ek dink dit was ʼn wonderlike voorreg om saam met hierdie mense te kon werk en ek is diep dankbaar oor hoe die program en die lied uitgespeel het,” sê Coenie.

  • Luister boaan die artikel na die Kersfees 1914-dokumentêr waarin die verhaal van die Kersfees-wapenstilstand van 1914 verweef word met Coenie de Villiers se lied “Kersfees 1914” wat hy saam met André Schwartz, Elana Afrika-Bredenkamp en die Mzansi Jeugkoor sing.
  • Klik hier om “Kersfees 1914” gratis af te laai.
  • ʼn Klein bydrae kan ʼn reuseverskil in ʼn kind se lewe maak. Met die Bemagtig-ʼn-kind-projek, ʼn gesamentlike inisiatief van Helpende Hand en Maroela Media, word behoeftige kinders op verskillende maniere bygestaan om hul lewens in ʼn nuwe rigting in te stuur. Klik hier om die Bemagtig-ʼn-kind-fonds te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.