Luister: Afrikaanse dansmusiek is haar passie, sê ShoNeill


ShoNeill (Foto: Maroela Media)

ShoNeill (Foto: Maroela Media)

Die sangeres en liedjieskrywer ShoNeill was die eerste keer in kykNET se Afri-Visie-sangkompetisie te sien, maar dié kunstenaar het onlangs haar debuutalbum vrygestel en sê sy koester groot drome vir haar sangloopbaan.

Die album, Nooit of Nou, is vroeër in Mei vrygestel. Die album bevat hoofsaaklik dansliedjies. “Ek het agt van die snitte self geskryf, en die ander liedjies is my weergawe van bekende liedjies. Die liedjie “Vas dans” is tydens Afri-Visie opgeneem, en verskil bietjie van ander liedjies op die album,” het sy gesê.

Sy sê dié kykNET-kompetisie was maar net die begin van groot dinge. “Dit was ʼn baie goeie geleentheid gewees. Ek het ʼn platform gekry met die musiekvideo en die produksie van die liedjie om my musiek aan mense bekend te stel. Nou werk ek volstoom om as sangeres erken te word.”

Sy word geïnspireer deur die klein dingetjies, en sê dít weerspieël ook in haar musiek. “Liefde, mense en familie inspireer my. My ma was byvoorbeeld die inspirasie vir ‘Hart van goud’ met haar onvoorwaardelike liefde. Dit is die klein dingetjies wat ek raaksien,” het sy bygevoeg.

Sy wil ook hê haar dansmusiek moet ander inspireer en raak. “Ek wil gekenmerk word deur Afrikaanse dansmusiek – dit is my passie. Ek dink mense dans om beter te voel, en dit sal ʼn voorreg wees om te weet mense luister na my musiek en kan ontsnap.”

Aanhangers kan uitsien na “Hart van goud” wat binnekort as enkelsnit en musiekvideo vrygestel word.

Besoek ShoNeill se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.