Luister: Blyspel geskoei op musiek van Queen het gehore op hul voete

Dirk Joubert en Nadine Grobbelaar van We Will Rock You kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

We Will Rock You is ʼn musiekblyspel so reg na enige Queen-aanhanger se hart, maar dié unieke verhoogproduksie is nie ʼn huldeblyk aan die ikoniese musiekgroep nie.

Dit is eerder ʼn viering van Queen se musiek in ʼn blyspel geïnspireer deur wetenskapsfiksie. Só vertel Dirk Joubert en Nadine Grobbelaar, lede van die We Will Rock You-rolverdeling, in Maroela Media se ateljee.

Die regisseur, Ben Elton, se bekroonde rock-blyspel se Suid-Afrikaanse rolverdeling is tans op die planke by The Teatro by Monte Casino in Gauteng. Vandaar sal die blyspel na die Artscape-teater in Kaapstad vir vier weke uitgevoer word.

“Voor ons in Johannesburg met We Will Rock You begin optree het, het ons in Manila, Singapoer, opgetree. Ons gaan ook van die Kaap af vir ʼn paar weke die vertoning in Israel lewer.

“Ons is baie opgewonde,” vertel Dirk en Nadine, wat byvoeg dat hulle al voor die pandemie kontrakte geteken het om deel van dié produksie te wees.

Londiwe Dhlomo vertolk die rol van Killer Queen. (Foto: Verskaf)

Die blyspel bestaan uit 24 van Queen se bekendste liedjies, insluitend treffers soos “Crazy Little Thing Called Love”, “Killer Queen”, “We Are The Champions”, “Bohemian Rhapsody” en natuurlik, “We Will Rock You”.

Dit is nie die verhaal van Freddie Mercury se lewe nie, maar eerder ʼn storie wat vertel word op die maat van dié ikoniese liedjies uit hoofsaaklik Freddie se pen.

We Will Rock You handel oor ʼn groep Boheemse mense in ʼn distopiese toekoms sonder musiekinstrumente. ʼn Handjievol rock-rebelle, die Bohemians en die twee sosiaal wanaangepaste Scaramouche en Galileo, gaan op ʼn reis om die onbeperkte krag van vryheid en liefde en die hergeboorte van die era van rock te vind.

“Die gehore wat die blyspel al gesien het, reageer regtig goed. Hulle is telkens op hulle voete en ons kan sien mense is honger vir goeie musiek en verhoogproduksies,” sê Dirk en Nadine.

Die rolverdeling bestaan uit 27 uiters talentvolle Suid-Afrikaanse kunstenaars. Londiwe Dhlomo vertolk die rol van Killer Queen, terwyl die bekroonde Binnelanders-akteur Craig Urbani as Khashoggi te sien is. Tiaan Rautenbach is Buddy, Richard Gau is Brit en Danielle Cronjé is Oz. Nicolette Fernandes is Scaramouche en Stuart Brown is Galileo.

Die 7 hoofrolle en 20 ondersteunende rolle word deur ʼn 6-stuk orkes begelei.

We Will Rock You is werklik iets vir almal. Dit is ʼn groot vertoning wat uiteindelik ʼn rock-konsert is.”

Kaartjies vir We Will Rock You is beskikbaar by www.showtime.co.za of by Ticketmaster.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Dirk Joubert en Nadine Grobbelaar oor We Will Rock You.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.