Luister: Bouwer delf diep met nuwe musiek

Bouwer Bosch. (Foto: Eugene August)

Verandering is nie net nodig nie, maar is deel van die lewe.

Die sanger en liedjieskrywer, Bouwer Bosch, is al 17 jaar in die musiekbedryf en sy jongste album, Briewe uit die argiewe, gee ʼn blik oor die afgelope paar jaar in sy lewe. Dit is sy eerste solo-album sedert 2016.

“Ek het talle musiekprojekte aangepak, is getroud en deur ʼn egskeiding en is nou weer in ʼn nuwe verhouding. Dit is onmoontlik dat daardie soort dinge jou nie verander nie. Hopelik is daar mense wat hulle daarmee kan vereenselwig.”

Die meeste van die liedjies kom uit Bouwer se eie musiekargiewe en is oor die afgelope drie jaar geskryf.

“Die musiek en lirieke het kans gehad om volwasse te raak binne-in my voor ek dit met die wêreld deel.”

Bouwer en sy akteursvriend Bennie Fourie, wat saam die fliek Vuil wasgoed geskryf het, vorm deesdae deel van Freckle Creative, ʼn agentskap wat onder meer advertensies skryf en vervaardig.

Die mees onlangse advertensie uit dié komiese duo se pen is die The Courier Guy-advertensie met Leo Prinsloo, wat bekendheid verwerf het toe hy ʼn bende transitorowers in Pretoria met sy bestuursvernuf gefnuik het.

Bouwer is egter nou weer ten volle gefokus op sy musiek. “Ek dink daar is ʼn hongerte in my wat ek lanklaas beleef het wat musiek betref en ek wou net weer stories vertel met musiek.

“My lewe het baie verander toe ek televisie- en rolprentwerk begin doen het en ek het musiek afgeskeep omdat daar nie tyd was nie, so ek wou net die afgelope drie jaar se gebeure in my lewe in ʼn album vasvang en dit deel.”

ʼn Handjievol van die liedjies in die album is ook vir ander kunstenaars geskryf, maar het nooit die lig gesien nie.

Enkelsnitte soos “Soos ek doen” saam met Abby, “Sambreel” en “Skemer” het reeds vroeër vanjaar aanhangers se honger na nuwe musiek uit dié veelsydige kunstenaar se pen bevredig.

“Ek het musiek op my rekenaar gevind wat ek in 2019 geskryf het en gevoel die tyd is nou reg om hierdie stories te vertel,” sê Bosch in Maroela Media se ateljee.

Hy het Briewe uit die argiewe saam met Francois de Klerk, Austin Hlume, Tjaardt van der Walt, Ruan Graaff en Deon Volschenk vervaardig. Die album is opgeneem by sy ateljee in Johannesburg.

Bouwer en die kunstenaar Lucinda is in ‘n verhouding. (Foto: Facebook/Bouwer Bosch)

Die album bevat ʼn verskeidenheid van samewerkings met musikante soos Almero, Loufi, Henru (ʼn nuwe kletsrymer van die Kaap) en Abby, en aanhangers kan uitsien na ʼn mengsel van pop- en danstreffers, asook dieper en ernstiger liedjies.

“Elke samewerking bring iets anders na die tafel. Ek kan by almal iets leer en die resultaat is ʼn opwindende album. Dis omdat drie of vier ander mense ook jou visie deel. Die Afrikaanse musiekbedryf is op so ʼn gesonde plek dat jy moet bybly met hoe goed almal om jou is.”

Bosch sê Briewe uit die argiewe is die album met die meeste diversiteit wat hy al uitgereik het. “Die feit dat die liedjies oor so ʼn lang tydperk geskryf is, en dat ek met soveel vervaardigers saamgewerk het, verskaf meer diepte aan die musiek.”

Briewe uit die argiewe is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Bouwer Bosch.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Soos ek doen” saam met Abby:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.