Luister: Danny Smoke-lied delf in ‘wildste fantasie’

Danny Smoke en Angelique Gerber. (Foto: Verskaf)

Danny Smoke, die gesoute musikant wat bekend is vir solosnitte soos “Soek jy aandag of soek jy my lyf?” en “Swaeltjies”, is terug op die musiektoneel met sy splinternuwe liedjie, “Wie’s jou kat?”.

Die liedjie is Donderdagaand op ʼn glansgeleentheid in Pretoria bekend gestel en is om middernag amptelik uitgereik op alle groot digitale platforms.

Bekendes soos Vanes-Mari du Toit, Janie Bay, Demi Lee Moore, Rita Li en Angelique Gerber, wat die vrouehoofrol in die musiekvideo vir “Wie’s jou kat?” vertolk, het by die Moonshine-restaurant in Menlyn, Pretoria, gekuier om die uitreiking van Smoke se eerste enkelsnit in drie jaar te vier.

Die tema van die aand was “Wildste fantasie” en partytjiegangers het geen moeite ontsien om in uitspattige uitrustings by die geleentheid op te daag nie.

Die akteurs Neels van Jaarsveld en Francois Jacobs, sy meisie, Nykie Pretorius, en die TikTokkers Janey en Waney, het ook saam kom kuier.

Die musiekvideo se regie is deur Conrad Theron van Dapper Media behartig. Die konsep van die video is om pret te weerspieël. Die hoofkarakter, wat deur Angelique Gerber vertolk word, word verskillende karakters wanneer sy saam met Danny in die vertrek is en die musiekvideo onderstreep die boodskap dat ’n mens kan – en mag – fantaseer én dit uitleef.

“Ons kry die kans om karakters te word wat ons nie in die werklike lewe is nie,” sê Smoke in die Maroela Media-ateljee.

Smoke werk al 16 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf as musikant en vervaardiger by Precision Recording Studios in Pretoria.

Hy is bedrywig met die vervaardiging van talle ander bekende Afrikaanse kunstenaars se musiek, soos dié van Jo Black en Irene-Louise van Wyk, en is verlede jaar op die Aitsa-musiektoekennings met die prys vir beste vervaardiger vereer.

Hy is vanjaar ook benoem vir liedjieskrywer van die jaar vir Jo Black en Refentse se treffersnit “Rig jou oë na die berge”.

Smoke se debuutalbum, Swaeltjies, is benoem vir ’n SAMA (South African Music Award) en verskeie van die albums wat hy vir ander kunstenaars vervaardig het, is al vir dié gesogte toekennings benoem.

“Wie’s jou kat?” is uit die bekende liedjieskrywer Johan Vorster se pen. “Ek noem partykeer meisies ‘katte’, so toe skryf Johan die liedjie daarmee in gedagte,” verduidelik hy die inspirasie vir die liriek.

“Ek sê vir dié kat presies wat ek met haar wil doen en hoekom ek haar ’n kat noem.”

Volgens die waaghalsige sanger verwag hy dat die liedjie goed ontvang sal word. “Ek wil hê mense moet die kettings wat hulle vashou, afbreek en net ’n goeie tyd hê.

“Ek hou daarvan om goed te voel en nie te veel hoef te worry nie. Ek wil hê my musiek moet dit wees vir mense, en dat wanneer hulle daarna luister, hulle weggevoer sal word na magical plekke.”

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Danny Smoke in die Maroela Media-ateljee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Juanita du plessis het 35 jaar gelede ook die liedtjie probeer sing ????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.