Luister: Irene-Louise oor Afrikaans is Groot, Aitsa-benoemings

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabe)

Sedert haar sokkietreffer, “Tekkies brand”, verlede jaar uitgereik is, het deure waaraan sy al jare lank sonder sukses klop, skielik vir haar oopgegaan.

Só vertel Irene-Louise van Wyk, wat in November op die Afrikaans is Groot-verhoog gaan staan saam met kunstenaars soos Riana Nel, Jo Black, Elvis Blue, Demi Lee Moore, Ruhan du Toit, Ricus Nel, Corlea, Elandré, Refentse, Karlien van Jaarsveld, Jay du Plessis en Bok van Blerk.

“Tekkies brand” het vir weke aaneen boaan treffersparades geboer en is langer as ʼn jaar nadat dit uitgereik is steeds in die negende plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20. Die musiekvideo is ook byna 3,7 miljoen keer op YouTube gekyk.

“Alles het verander. Meer mense kom na my vertonings toe – en hulle kom om my te sien, nie iemand anders vir wie ek net in ʼn voorprogram opgetree het nie. Dis gek wat net een liedjie vir ʼn kunstenaar kan doen en daar is nie een dag dat ek nie dankbaar is daarvoor nie. Ek is so gelukkig en so geseënd dat ek my passie kan uitleef.”

Irene-Louise kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Irene-Louise se jongste enkelsnit, “Beheer verloor”, is vandag (Vrydag) uitgereik. Sy vertel die liedjie herinner aan die musiek van Eden, die Afrikaanse groep wat destyds naam gemaak het met liedjies soos “Lyf teen lyf” en “Is jy bang?”.

“Ek is baie opgewonde vir mense om die liedjie te hoor. Ek was self mal oor die liedjie van die eerste keer dat ek dit gehoor het.”

Sy vertel dat sy en Louis van Wyk, haar pa en bestuurder, emosioneel was toe sy die nuus kry dat sy die geleentheid het om op die Afrikaans is Groot-verhoog te staan.

“Dit is die grootste verhoog in Suid-Afrika waarop ʼn Afrikaanse kunstenaar kan staan. Ek is baie senuweeagtig, maar ek sien só uit daarna om deel te wees daarvan.”

Irene-Louise is een van vyf vrouekunstenaars wat by dié reusekonsert, wat by die SunBet Arena, Time Square, in Pretoria plaasvind, gaan optree.

“Toe ek myself op die plakkaat sien tussen Riana, Corlea, Karlien en Demi Lee, kon ek dit self nie glo nie. Ek het seker vir tien minute net in ongeloof daarna gestaar. Dit is iets waaroor ek al so lank droom en waaroor ek al so lank bid.”

Sy vertel die repetisies vir Afrikaans is Groot vind in Oktober plaas. “Ek is baie opgewonde om deel te wees van so ʼn massiewe produksie. Ek gaan blykbaar ʼn paar danspassies moet leer, waaroor ek baie senuweeagtig is, want ek het twee linkervoete,” skerts sy.

Irene-Louise is deel van die room van die Afrikaanse musiekbedryf wat op Afrikaans is Groot te sien sal wees.

Die sangeres, wat ook ander treffers soos “Kuierleier” en “Maak ʼn plan” uitgereik het, is vanjaar benoem vir twee Aitsa-toekennings – een vir kunstenaar van die jaar en een vir popliedjie van die jaar.

“Dit is vir my ʼn eer net om benoem te wees saam met ongelooflike groot name in die Afrikaanse musiekbedryf.”

Irene-Louise het onlangs haar 30ste verjaardag gevier en sy het haarself bederf met ʼn groot partytjie by die Maslow-hotel in Pretoria met ʼn Disney-tema. Sy het ook besoek afgelê aan Disneyland in Parys, Frankryk, asook haar vriendin in Nederland met ʼn kuiertjie verras.

“Ek wou nogal altyd alleen reis om myself uit te daag. Ek maak baie staat op ander mense om dinge vir my te doen, en hierdie reis het my uitgedaag om self oor die weg te kom.”

“Beheer verloor” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.