Luister: Jannie du Toit vier 50 jaar met aanlyn konsert

Jannie du Toit kuier in die Maroela Media-ateljee.

Die ikoniese Afrikaanse liedjieskrywer en woordtowenaar Jannie du Toit vier vanjaar ʼn suksesvolle musiekloopbaan van 50 jaar.

In 1977 het hy sy LLB-graad aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf, maar sy passie het altyd by musiek en die Afrikaanse taal gelê. In 1980, kort nadat hy sy klerkskap in die regte voltooi het, bedank hy om hom heeltyds op musiek toe te spits.

Hy vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy onthou nog die presiese oomblik toe hy geweet het dat hy sy bestaan uit musiek sou kon maak.

“Dit was teen die einde van 1978 ná ʼn kuier saam met Andy Lubbe [stigter van die Innibos-kunstefees] en Sandra Jacobs op hulle plaas.

“Ek het vroegoggend die pad Pretoria toe aangedurf en toe ek so teen die berg af ry, het ek my Volkswagen se venster afgedraai, my hand so gehou dat die wind deur my vingers suis. Op daardie oomblik het ek gewéét: Musiek is wat ek vir die res van my lewe gaan doen.”

ʼn Loopbaan vol hoogtepunte sal op Sondag 5 September met ʼn sogenaamde Kunstefees in die Kleine by die AfriForum-teater in Pretoria gevier word. Die aanlyn konsert word deur Dapper Media aangebied en behels drie van Du Toit se produksies wat op dieselfde dag voor ʼn gehoor aangebied en opgeneem word.

Kykers kan uitsien na Die maan deur ʼn gaatjie in die nag, met musiek deur Marie Tredoux, wat eerste aan die beurt sal wees. Chanie Jonker sal die klavier bespeel terwyl Annelie du Plessis-Hoberg die fluit sal bespeel. Die teks is geskryf deur Dana Snyman.

Daarna is Bestemmings te sien, met Susan Mouton op tjello, Chanie Jonker op klavier en Theuns Botha op tromme. Du Toit se kunstenaarsvriende soos Anna Davel, Coenie de Villiers, Lochner de Kock, Laurinda Hofmeyr asook Andy Lubbe en Morg Jacobs, twee van sy kollegas van die sanggroep uit die sewentigs, Trilogie, gaan saam met hom op die verhoog te sien wees.

Die geestelike program, Soli Deo Gloria, volg daarna. Renette Bouwer en die a cappella-groep Breathe sal as gaskunstenaars te sien wees.

Kaartjies vir die aanlyn konsert is beskikbaar op die AfriForum-teater se webwerf.

Dié Kunstefees in die Kleine word ook voorafgegaan deur nog ʼn konsertreeks wat in die skoolsaal van die Jan Cilliers Laerskool en Pre-Primêr aangebied sal word. Kaartjies vir die konserte, wat van 27 tot 29 Augustus sal plaasvind, kan aangekoop word deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] of [email protected]. Jopie van die Pierneef-teater kan ook gekontak word by 072 460 5568.

Geredigeerde weergawes van die produksies sal ook later op kykNET uitgesaai word. Vanaf 29 September tot 22 Desember sal kykNET ook Du Toit se bydrae tot die Afrikaanse kunstebedryf vereer met ʼn reeks van 13 vollengte programme getiteld ʼn Liedjie vir jou.

Vir meer inligting oor die konserte, besoek Jannie du Toit se webwerf.

  • Luister na die volledige onderhoud bo-aan die berig. Lees ook meer hier oor Jannie se viering van sy 50ste jaar in die Afrikaanse musiekbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.