Luister: Joe Foster en Elandré saam vir goeie doel

Joe Foster en Elandré sing op een verhoog by ‘Musiek vir die siel’

Twee van Suid-Afrika se vuurwarmste jong kunstenaars sal Vrydagaand saam op die verhoog te sien wees – en dit boonop vir ʼn goeie doel.

Joe Foster en Elandré se Musiek vir die siel-vertoning word môreaand by die Sun Arena in Pretoria aangebied, waar hulle van hul bekendste treffers soos “Pad na jou hart” en “Vuur op die water” sal sing.

Musiek vir die siel dien as geldinsameling vir Sharon Ransom, ʼn vrou wat in Oktober ʼn opehartoperasie moet ondergaan.

Ransom is gebore met ʼn hartdefek wat veroorsaak dat haar hartkleppe vervang moet word deur middel van ʼn hartoperasie. Dié prosedure kos ongeveer R450 000 en daarom het sy inisiatief geneem om geld in te samel omdat sy geen mediese fonds het nie.

Foster vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy het aanvanklik nie geweet dat dít die rede vir die vertoning is nie. “Die feit dat ek met Elandré ʼn verhoog gaan deel, is reeds vir my wonderlik, maar dat ek dit nou vir ʼn goeie doel gaan doen, maak dit net nóg beter,” sê hy.

Hy verduidelik dit is vir hom spesiaal om ʼn vertoning vir ʼn goeie doel te doen omdat dit waarde tot sy lewe toevoeg. “Ek het in die afgelope jaar of twee van my lewe ál meer besef dit is beter om te gee as om te ontvang. Wanneer jy gee, kry jy ʼn gevoel dat jy ʼn doel op aarde het. Gee bring goeie energie mee, en dít inspireer my. Ek wil by meer sulke soort projekte betrokke raak.”

Joe Foster (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Foster sê hy en Elandré sal ongelukkig nie ʼn duet in die vertoning sing nie, maar hy sal wel weer agter die klavier te sien wees. “Ek het ʼn vleuelklavier gehuur, so ek gaan vir dié vertoning ʼn bietjie meer agter die klavier wees as voor op die verhoog. Ek gaan ʼn bietjie terug na my fondament as musikant en is baie opgewonde daaroor.”

Foster se jongste enkelsnit, “Voel my pols”, wat hy saam met die sanger en liedjieskrywer Johan C Venter opgeneem het, het ook ʼn dieper betekenis as van sy ander musiek.

“Voel my pols” is ʼn herskrywing van die liedjie “Pulse” wat deur Eli Lieb en Brandon Skeie geskryf en gesing is nadat 49 mense op 21 Junie 2016 in die Pulse-nagklub in Orlando, Florida, doodgeskiet is. Die voorval is as ʼn haatmisdaad beskryf.

“‘Voel my pols’ is ʼn liedjie wat ons die eerste keer gehoor het ná die terreuraanval by die Pulse-nagklub. Dit het ons ongelooflik geraak as mense. Om te dink hierdie mense het net lekker uitgegaan die aand, en daar kom ʼn ou en skiet mense links en regs,” sê Foster.

“Ons was inniglik seergemaak daardeur. Ons [Suid-Afrika] is nie in ʼn terroristiese soort land nie, maar het wel dieselfde stryd teen aanvaarding en stryd teen verstaan.”

Foster en Venter het dadelik besluit om “Pulse” te herskryf en aan te pas vir ʼn Afrikaanse gehoor.

Foster sê hulle wou juis hierdie liedjie sing om by mense te pleit om meer verdraagsaam teenoor mekaar te wees.

“Hierdie liedjie is vir almal. Man of vrou, swart of wit, gay of heteroseksueel, wat ook al. As ons mekaar se polse voel, gaan ons agterkom ons almal [se harte] klop om dieselfde rede. Ons het almal dieselfde basiese behoeftes van liefde en aanvaarding. En dit is waaroor die liedjie gaan: almal is eenheid en eenheid is krag.”

Musiek vir die siel vind op 21 Junie om 19:30 by die Sun Arena Time Square in Pretoria plaas. Alle kaartjies kos R100 en is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lekker lag ·

Daar is nog ‘n treffer van Joe dink die naam is rug ridder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.