Luister: Liedjieboer stap ‘lang, maar lekker pad’ in Afrikaanse musiekbedryf

Anton Goosen (Foto: Maroela Media/Anja van der Merwe)

Suid-Afrika se eie liedjieboer, Anton Goosen, vier vanjaar vier dekades in die musiekbedryf en ’n arsenaal van lirieke, staaltjies en verhale. Ter viering van sy veertig jaar in die musiekbedryf, reik hy vandeesmaand sy nuwe album, 40 Jaar (1979-2019) liedjieboer innie langpad, uit wat van sy ou tot splinternuwe treffers bevat.

Die 73-jarige Anton Goosen stap al ’n lang pad vandat hy as student met die trein van Heidelberg (waar hy studeer het) na Oos-Londen gereis het om by ’n plaaslike verskeidenheidskonsert op te tree. Dié jong sanger en liedjieskrywer het toe nog nie geweet watter impak hy veertig jaar later op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf sou maak nie.

Vandag word hy vereer as Suid-Afrika se Liedjieboer, met 19 van sy oorspronklike treffers wat alreeds in die nuutste FAK-sangbundel opgeneem is.

Goosen het na skool geen onmiddellike musikale loopbaan in die vooruitsig gehad nie en het homself as onderwyser bekwaam. Hy het saans in kroeë gespeel en ook dáár al begin liedjies neerpen. “Die skoolsielkundige het in standerd nege my aangeraai om na skool ʼn regte werk te gaan doen en dat daar geen toekoms vir my in musiek is nie,” vertel Goosen.

Hy verlaat die onderwys in 1976 en begin as musiekresensent by die nuutgestigte koerant Beeld werk. Dit is in daardie tyd waar hy hoofsaaklik liedjies vir Sonja Heroldt en ander kunstenaars begin skryf. “Jantjie” het een van Heroldt se grootste treffers nóg geword.

Die Liedjieboer in sy jonger dae (Foto: Verskaf)

“In daardie jare het ek meestal liedjies vir ander kunstenaars geskryf. Toe ek ‘Blommetjie-gedenk-aan-my’ skryf, het my eerste regisseur, Chris Kritzinger, vir my gesê dat ek hom nie moet weggee nie, maar vir myself moet hou. Hy het met die voorstel gekom dat ek my eie Afrikaanse album moet opneem. Ek het gedink dit was ’n gawe idee,” vertel Goosen.

Goosen stel toe sy debuutalbum in 1979 tydens die Musiek-en-Liriek-beweging bekend. Dit was die eerste vollengte Afrikaanse album deur ’n sanger wat sy eie liedjies inheems in Afrikaans skryf. Treffers soos “Boy van die suburbs” en “Kruidjie-roer-my-nie” het groot sukses behaal met verkope van onderskeidelik 80 000 en 40 000 albums.

Alhoewel Goosen se musiek enig in sy soort was, was sy musiek in daardie jare nie altyd met ope arms ontvang nie. Die eerste weergawe van sy bekende treffer “Kruidjie-roer-my-nie”, ook die temalied van Dirk de Villiers se 1979-film Pretoria, o Pretoria, was na drie dae op die lug deur die SAUK se streng interne sensuurbeleid verban nadat ’n ministersvrou gebel en gekla het oor die lirieke. Dié lied is dieselfde middag nog wéér opgeneem en die weergawe soos ons hom vandag ken, het ’n top‑10-treffer geword.

‘n Jong Anton Goosen (Foto: Verskaf)

“Ek sal nooit vergeet toe ‘Kruidjie-roer-my-nie’ op 12 Maart op die treffersparade beland het nie. Ek het trots gevoel om my heel eerste liedjie ‘Jantjie’ op die radio te hoor speel. Die eerste keer wat iemand my tydens ’n vertoning herken het, was in Zeerust in daardie selfde jaar. Ek het vir my vrou gesê ons gaan vir ’n lang ruk nooit weer alleen wees nie. Daar was ’n omwenteling in my lewe. Ewe skielik verwag almal van jou om op water te kan loop. En jy moet leer om hierdie bekendheid te kan hanteer. Ek onthou spesifiek toe my destydse dromspeler een aand in 1980 in Ermelo vir my gesê: ‘Watch your head, lad.’ Ek het daaroor gedink en onthou dit tot vandag toe. Jy moet keer dat jou kop nie swel nie. Almal vertel jou jy kan op water loop, al is jy besig om op klippe rond te drentel.”

Die Afrikaanse Musiek-en-Liriek-beweging in 1979 was ʼn groot rewolusie vir Afrikaanse musiek. Goosen was die voorloper van die beweging saam met ander bekende name soos Laurika Rauch, Koos du Plessis, Jannie du Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk. “Oorspronklike musiek het die botoon gevoer. Vandaar die opbloei van oorspronklike musiek na die Alternatiewe Beweging met Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis tot vandag toe met Jan Blohm of musiekgroepe soos Spoegwolf.”

Anton op die verhoog (Foto: Verskaf)

Vir Goosen is om oorspronklike musiek te skryf die geheim tot ʼn suksesvolle loopbaan. “Jy moet iets doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie. “Ek glo in die langlewendheid van ʼn treffer. In terme van oorspronklikheid, is langlewendheid die enigste antwoord indien jy ʼn indruk of verskil met jou musiek wil maak,” sê hy.

Goosen is al as die Bob Dylan van Afrikaanse musiek beskryf en vertel kleurryke stories met elke liedjie. Hy skryf oor ʼn leeftyd van herinneringe, ervarings, observasies en emosies. Hy doen ook deeglike navorsing oor ʼn onderwerp voordat hy daaroor skryf. “Soos Coenie de Villiers eenkeer gesê het: ‘Mens dra jou tassie vol dinge en herinneringe saam met jou en gebruik dit tydens jou liedjieskryfproses.’

“Ek kry gewoonlik idees in my kop en dan skryf ek daaroor. Die idee agter die liedjie ‘Swart Water’ het ontstaan toe ek oor die Swartrivier naby Caledon, gery het. Ek was op pad om die temalied vir die rolprent Pawpaw vir my darling op te neem toe ek oor die Swartrivier ry. Die oomblik toe ek oor dié rivier ry, het ek geweet ‘Swart Water’ is my volgende liedjie.”

Alhoewel liedjieskryf vir Goosen soos tweede natuur is, sê hy daar wel dae wat dit moeilik is om geïnspireerd te bly om nuwe liedjies te skryf. “Dit is omdat jy reeds aan die begin van jou loopbaan oor die meeste van jou ervarings klaar geskryf het.”

Anton Goosen se nuwe album ter viering van sy vier dekades in die musiekbedryf (Foto: Verskaf)

Deurentyd in Goosen se veertig jaar van musiekmaak wil hy hoofsaaklik met sy musiek ’n positiewe emosie onder luisteraars ontlok. Hy wil hê mense moet ontvlugting deur sy musiek kan vind.

“Veertig jaar is ’n lang pad, maar ʼn baie lekker pad. Ek sien uit na die volgende veertig jaar,” sê die Liedjieboer.

Die 40 Jaar (1979-2019) liedjieboer innie langpad-album is ʼn oorsig van treffers van die Liedjieboer se musiekloopbaan. Van ou treffers soos “Kruidjie-roer-my-nie”, treffers wat nog nooit voorheen uitgereik is nie tot splinternuwe treffers soos “Swart Water”, kan op dié album verwag word. Die album is by alle groot musiekhandelaars landswyd beskikbaar en sal ook vanaf November op digitale platforms beskikbaar wees.

Volg Anton Goosen se Facebook-blad vir meer inligting rakende besprekings en toerdatums.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Anton beskik oor die talent om ‘n eenvoudige situasie in die mooiste woorde om te sit en ‘n lied daarvan te maak. Hy het baie liedjies vir Sonja geskryf en dit was van die beste Afrikaanse musiek. Alles oorspronklik, geen namaaksels, eerbare werk.

PIJ ·

Anton is n fantastiese kunstenaar. Plat op die aarde. Mag die liedjieboer nog lank skryf

Voorwaarlik ·

Anton Goosen is regtig n aanwins vir afrikaanse musiek. Sy musiek het in my hart as kind baie vir my beteken. Ek onthou hoe ek Trompie gesing het, as ek in die veld met my kettie gestap het. Mag sy pen nooit opdroog nie :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.