Luister: Liefde vir moedertaal inspireer Stefan Jansen se musiek

Stefan Jansen. (Foto: Facebook/Stefan Jansen)

Nee, skerm die Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Stefan Jansen blitsvinnig, hy beplan geensins om nou ʼn Engelse rigting met sy musiek in te slaan nie.

Inteendeel, voeg die sanger van liedjies soos “Verdienste en genade”, “Suikerbos” en “As ek jou onthou” by, sy splinternuwe Engelse kortalbum is slegs ʼn versameling van vier snitte waarop hy baie trots is as liedjieskrywer.

“Sedert ek ‘Suikerbos’ uitgereik het, het die dinge in die musiekloopbaan vir my begin gebeur. Dit was vir my ʼn groot deurbraak, want dit het baie mense laat regop sit aangesien soveel mense daarby kan aanklank vind,” verduidelik die musikant in Maroela Media se ateljee.

“Dit is vir my ʼn groot avontuur. Ek maak nou eers twee jaar lank voltyds musiek. As dit by kreatiwiteit kom, het ek baie gehad om te leer en ek het die laaste jaar baie gegroei. Ek dink ek het my styl gevind en sien uit daarna om binne die eerste helfte van hierdie jaar nog Afrikaanse musiek uit te bring.”

Stefan (34) vertel van ʼn magiese ervaring wat hy in Switserland gehad het toe hy daar Afrikaanse musiek op straat gesing het.

Stefan Jansen. (Foto: Facebook/Stefan Jansen)

“Ek het begin Afrikaans speel op straat en die mense kon net nie genoeg daarvan kry nie. Ek het nog nooit so relevant, geliefd en interessant gevoel soos buite Suid-Afrika deur Afrikaans te sing nie. Daarom wil ek ongetwyfeld Afrikaans voortsit en my deel doen om die taal en kultuur te ontwikkel.”

Dit is ook hoekom hy besluit het om die musiekvideo vir die liedjie “Lankal gereed” by die Voortrekkermonument te skiet.

“My liefde vir die taal en my begeerte om suksesvol te wees, het bymekaar gekom toe ek besef het ek moet myself wees, en ek is ʼn tradisionele Afrikaanse ou.”

Voordat hy egter sy voete as Afrikaanse kunstenaar gevind het, het hy sowat 150 Engelse liedjies geskryf.

“Daaruit het ek vier liedjies gekies wat ek tydens die Katryn-kortalbum se bekendstelling gesing het om vleis aan die vertoning te gee. Kobie Koen van Vonk Musiek, my platemaatskappy, het gevoel die liedjies moet opgeneem word.

“Die vier liedjies is saamgevat in ʼn nuwe kortalbum getiteld Wasting Time. Dit is ook die titelsnit van die album, en dit is die mooiste country-liedjie wat goedgekeur is vir Spotify se country-speellys.

“Ek dink hierdie Engelse kortalbum is van die mooiste musiek wat ek al geskep het, aangesien ek beter raak om musiek in die ateljee te skep.”

Stefan is ook betrokke by die FAK Liedjiebus-inisiatief, wat gratis besoeke deur kunstenaars aan kleuterskole en ouetehuise fasiliteer.

“Ons geliefde bejaarde mense word nie soveel blootgestel aan die kultuur soos jongmense nie. Jongmense kan musiek gaan luister in ʼn kroeg of teater. Toe ek my musiek vir my ouma speel, kon ek in haar oë sien die ouer mense waardeer die musiek soveel meer as die jongmense in ʼn kroeg.

“Dit is iets wat ek kan doen om oumense te laat deel voel van die kultuur. Dit laat my hart gloei om dit te doen. Dit is vir my die groter prentjie agter musiek.”

Katryn is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Wasting Time sal op 3 Maart op alle digitale platforms beskikbaar wees, saam met ‘n splinternuwe musiekvideo.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Stefan Jansen.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Suikerbos”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.