Luister: Martin Bester skop vakansie af met Afrikaanse somersnit

Martin Bester kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Martin Bester, ʼn radio-omroeper en musikant, dra talle hoede in die vermaaklikheidsbedryf, maar die kersie op die koek van die besige jaar wat hy agter die rug het, is die uitreiking van sy splinternuwe Afrikaanse enkelsnit, “Boerepop”.

Só vertel Martin, wat vroeër vandeesmaand weer met die Telkom-radiotoekenning bekroon is vir die beste ontbytprogram op ʼn kommersiële radiostasie vir Breakfast with Martin Bester, sy ontbytprogram op Jacaranda FM.

Hy kuier in Maroela Media se ateljee kort nadat die musiekvideo vir “Boerepop” uitgereik is, en vertel dit is ʼn absolute hoogtepunt om die jaar met die uitreiking van ʼn nuwe enkelsnit af te sluit.

“Boerepop verwys na die Afrikaanse popmusiek wat mense aan die kuier en dans kry, wat mense laat ontspan. Dit is die musiek wat alledaagse, hardwerkende mense kliphard speel. Ons sien dit oral in die klein plekkies waar ons reis vir vertonings, en een ding wat ongetwyfeld uitstaan, is hoe gehore op Afrikaanse popmusiek reageer.”

Martin en Roux Cloete het “Boerepop” geskryf, Paulo Azevedo van Coleske Artists het Martin se stem opgeneem en Dirk van Niekerk het die liedjie in die Kaap gemeng en vervaardig.

“Ek het baie lief geraak vir sekere Afrikaanse kunstenaars, net as gevolg van hoe mense op hulle musiek reageer en die effek wat hulle op mense het. Dit is onverbeterlik,” sê Martin.

Die musiekvideo vang die gees van Martin en sy medemusikante op die pad vas. Groot gedeeltes van die beeldmateriaal is tydens die Groot Jol-konsert by die Voortrekkermonument opgeneem.

Martin Bester op die verhoog by die Glimlag Fees. (Foto: Facebook/Glimlag Fees)

“Dit was ook die eerste keer wat ek ‘Boerepop’ op die verhoog gesing het, en ons het die gehoor se reaksie afgeneem.”

Martin beplan om tydens die Desembervakansie by ʼn musiekfees in Gqeberha op te tree, maar gaan ook op Nieu-Bethesda uitspan.

Sy pa, Boetie, besit ʼn kroeg op dié klein dorpie in die Oos-Kaap, en in sy vryetyd beplan Martin om self hier ʼn biertjie of twee vir besoekers te skink.

“My pa is 76 jaar oud en hy speel self kroegman, maar as hy ʼn bietjie moet rus sal ek self agter die kroegtoonbank inklim. As jy die vakansie deur Nieu-Bethesda ry, stop gerus by Boetie’s Pub vir ʼn biertjie,” sê Martin laggend.

“Boerepop” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Martin Bester.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Boerepop”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.