Luister: Muller Brandt leef sy droom met eerste album

Muller Brandt. (Foto: verskaf)

Die musikant en liedjieskrywer Muller Brandt spog nou met ’n album propvol liedjies wat luisteraars gaan laat dink, lag en selfs gaan laat huil.

Brandt, wat voorheen net enkelsnitte geskryf en opgeneem het, wou graag ’n album uitreik wat die spieëlbeeld van sy persoonlikheid is.

“Van lig tot diep, ek wil hê jy moet bietjie dink,” het Brandt aan Maroela Media vertel.

Wanneer mense na die album luister, moet hulle ook daaraan herinner word dat die lewe kort is en dat elke oomblik geniet moet word.

Met die titelsnit op die album, “Brand die skepe”, wil hy graag mense aanmoedig om hul vrese agter te laat.

“Alles wat jy terughou in die lewe om jou droom te volg, wat die skip is, moet verbrand word.”

Dié liedjie weerspieël ook die waagmoed wat dit van Brandt geverg het om sy musiekloopbaan met ononderbroke toegewydheid aan te pak. Hy het by sy dag-tot-dag-werk bedank en met volle ywer die skryf en opneem van musiek aangepak.

’n Passie vir Afrikaans en die bewaring van die taal lê hom na aan die hart, en sy bereidwilligheid om deel te wees van dié beskermingstryd vloei soos ’n goue draad deur die liedjies op die album.

“Ek dink elkeen kan saam baklei. Jy moet Afrikaans praat, jy moet dit sing en jy moet daarin skryf om dit lewendig te hou.”

Eg Afrikaanse klanke gekombineer met ’n paar moderne elemente is juis die resep wat Brandt en sy span gevolg het om die liedjies te skep.

Brandt, wat in 2019 Maroela Media se eie liedjie, “Plattelanders”, saam met Michael van der Walt geskryf het, was aangenaam verras om te sien dat die lirieke van dié liedjie nou teen die muur van Maroela Media se radioateljee pronk.

“Ek het hier ingestap en dit het my omgeblaas. Dis baie spesiaal vir my!”

Brandt, wat van ’n klein dorpie afkom en groot musiekdrome deur die jare heen gekoester het, is opgewonde om te sien dat die woorde uit sy pen nou op só ’n tasbare wyse waardeer word.

“Dit herinner my aan daardie seun wat bid en vir die Here gevra het om hom te help om dit te maak.”

  • Luister die klankonderhoud wat Maroela Media met Muller Brandt oor sy nuwe album gevoer het, boaan die artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.