Luister: ‘Nagtegaal van Nylstroom’ reik snit ná ‘Die Kontrak’ uit

Gabi Swanepoel. (Foto: Gabi Swanepoel/Facebook)

“Die Nagtegaal van Nylstroom”. Dít is hoe Bobby van Jaarsveld die sangeres, Gabi Swanepoel, gedurende haar tyd op die tweede seisoen van Die Kontrak beskryf het.

Gabi het ’n derde plek in dié kompetisie behaal en het pas haar debuutenkelsnit ná haar deelname aan Die Kontrak uitgereik.

Johan Oberholzer het “Nagtegaal” vir Gabi geskryf nadat hy haar verlede jaar ontmoet het. Die snit se titel het juis gespruit uit die bynaam wat sy gedurende die kompetisie gekry het.

“Ek wou die liedjie dadelik uitreik nadat ek hom ontvang het, maar die wag was die moeite werd,” erken Gabi (22) terwyl sy in Maroela Media se ateljee gesels.

Wanneer sy vandag terugdink aan haar ervaring op die program, besef sy dat musiek eintlik nooit in kompetisievorm aangebied kan word nie. Almal is uniek, glo sy onomwonde.

Die vriendskappe wat sy egter gedurende dié tyd van haar lewe en loopbaan gesmee het, staan vir haar soos ’n paal bo water as hoogtepunt uit.

Sy beskryf die finaliste wat saam met haar aan die kompetisie deelgeneem het as “familie” en sou beslis nie die ervaring sonder hulle wou hê nie.

Gabi het pas ma geword toe sy vir Die Kontrak ingeskryf het. Die twee maande lange skuif na Pretoria om die program te verfilm het ʼn reuse-impak op haar gesinslewe gehad.

“Ek het besef dat dit nie altyd maklik of lekker gaan wees nie,” vertel sy.

“Om ʼn goeie ondersteuningsraamwerk te hê, is ongelooflik belangrik.”

Sy raai die finaliste van die derde seisoen van Die Kontrak aan om vas te klou aan hul musiekdroom, om nooit weg te breek van dit wat hul passievol maak nie en om medefinaliste te ondersteun nes jy jouself sou ondersteun.

“Daardie persoon is net so bang soos jy om huis toe te gaan. Dit is ook hul droom; neem dit altyd in ag.”

Gabi koester ʼn musiekdroom van kindsbeen af, en erken maklik dat dit die enigste loopbaan is wat vir haar aanloklik geklink het.

“Musiek is die beste manier waarop ek myself kan uitdruk.”

  • Luister na die volledige klankonderhoud met Gabi boaan die artikel.
  • “Nagtegaal” is nou op alle groot stromingsplatforms beskikbaar.

Kyk hier na Gabi Swanepoel se raad vir die finaliste van die derde seisoen van Die Kontrak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.