Luister: Nuwe Boerboel-tannie, Mooi Jan gesels oor Jan Jan Jan-musiek

Tannie Sêrra en Mooi Jan kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

“Daar is hopeloos te min Suid-Afrikaanse humor en as mens iemand kan laat glimlag dan is dit mos lekker.”

Só gesels Dulan Emslie, oftewel Mooi Jan, oor die groep, Jan Jan Jan, se jongste enkelsnit, “Hy’s ʼn lekker ou”.

Mooi Jan het saam met Tannie Sêrra, die splinternuwe sogenaamde “Boerboel-tannie” in Maroela Media se ateljee gekuier. Sy het onlangs die handelsmerk se Boerboel soek ʼn tannie-kompetisie gewen.

Dié gewilde Suid-Afrikaanse handelsmerk, Boerboel Wear, is een van die min klerehandelsmerke met sy eie musiekgroep, en daarom is Mooi Jan trots om deel van Jan Jan Jan te wees. Só sê hy in die Maroela Media-ateljee oor die rol wat hy in Jan Jan Jan vervul.

Lang Jan en Klein Jan het nie saam gekuier nie, maar is ewe opgewonde oor hulle jongste enkelsnit en musiekvideo.

Die jongste liedjie het die tipiese Boeremusiek-klank wat die voete laat jeuk waarvoor die groep bekend is. Tannie Sêrra is saam met die ander Boerboel-tannie, Tant Matie, en die aktrise en sangeres, Bibi du Preez, as Deborah in die musiekvideo te sien.

“Die liedjie gaan daaroor dat elke ou en elke vrou lekker is op hulle eie manier,” sê Mooi Jan, terwyl Tannie Sêrra byvoeg dat sy self mal oor die liedjie is.

“Ons het ʼn baie spesiale plek in die mark gekry wat vir ons werk,” sê Mooi Jan.

Hy vertel Bibi het die rol van Deborah in die musiekvideo perfek vertolk. Die video se konsepte is te danke aan Stephan Hugo, mede-eienaar en bemarkingshoof, se kreatiwiteit.

Volgens Tannie Sêrra het sy en haar mede-aktrises vrye teuels gehad op die stel van die musiekvideo om kwyt te raak wat hulle wou.

“Dit is wat Boerboel so spesiaal maak. Die feit dat jy jouself kan wees, want elke ou bring ʼn deeltjie van hom saam, al is dit in karakter. En dit is daardie mengelmoes, daardie sop wat deur Stephan gekook word, wat dit so spesiaal maak. Dis ʼn ongelooflike ervaring.

“So mooi soos hulle aan die buitekant is, so mooi is hulle aan die binnekant, glo my. Almal van hulle.”

“Hy’s ʼn lekker ou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister na die volledige ateljeeonderhoud met Mooi Jan en Tannie Sêrra.

Tannie Sêrra en Mooi Jan het ook meer vertel oor die musiekvideo vir “Hy’s ʼn lekker ou”. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.