Luister: Ou musiekvriende dié jaar weer saam op Krone-verhoog

Kurt Darren, Elizma Theron en Nicholis Louw kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Kurt Darren, Elizma Theron en Nicholis Louw, drie van die land se grootste Afrikaanse kunstenaars, staan vanjaar weer oudergewoonte saam op die gesogte Krone-verhoog.

Nie net is dié drie kunstenaars al meer as twee dekades deel van die musiekbedryf nie, maar hulle is ook goeie vriende wat sedert 2013 elke jaar deel vorm van die “saamsing jol”, wat jaarliks derduisende toeskouers lok.

Die Krone-konsertreeks het sedert sy aanvangsjaar só van krag tot krag gegaan dat dié gesogte konsert vanjaar sy tuiste op Loftus Versfeld in Pretoria gaan vind, en dié slag kry konsertgangers ʼn 360-grade‑ervaring van dié massiewe musiekproduksie.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe die konsertreeks gegroei het van die begin tot nou,” is die drie musiekvriende dit eens tydens ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media.

“Daar was ʼn polistireen-kroon agter op die verhoog met ʼn paar trappies, en die eerste jaar het ons baie geïmproviseer en soveel geleer. Hierdie keer weet ons wat ons doen,” vertel Elizma laggend.

Volgens Kurt was dit van dag een af die droom om die konsert in ʼn stadion te hou. “Daar wag ʼn 360-grade-ervaring op konsertgangers.”

Die kaartjies vir die vertoning verkoop soos soetkoek en ʼn groot persentasie van die kaartjies is reeds uitverkoop.

“Met die stand van hierdie konsert [se kaartjieverkope] kan ʼn mens sien die Afrikaner ondersteun sy kunstenaars. Die veld is uitverkoop asook een van die stands.”

Volgens Kurt het die oospawiljoen nog ruim sitplekke beskikbaar. “Die oospawiljoen is altyd laaste uitverkoop vir rugbywedstryde want die son pla mense op daai plek. Dié konsert vind egter in die aand plaas en myns insiens gaan dit die beste plek wees om te sit tydens die konsert.”

Altesaam 22 van Afrikaans se gewildste kunstenaars kom vir een aand bymekaar op een massiewe verhoog om ʼn onvergeetlike vertoning in die hartjie van die Jakarandastad te lewer.

Bernice West, Juan Boucher, Eloff, Liezel Pieters, Nicholis Louw, Elizma Theron, Reën, Barto, Leah, Dirk van der Westhuizen, Jan Jan Jan, Prop, Christia Visser, Refentse, Appel, Brendan Peyper, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Snotkop, Ricus Nel en Elandré snoer vanjaar kragte saam vir ʼn Krone-konsert wat op almal se lippe gaan wees.

“Ek dink Eloff is my gunsteling jong kunstenaar. Hy is net ʼn lekker ou. Selfs Barto is so ʼn aangename ou. Mense gaan hom so geniet. Bernice het ook ʼn uniekheid aan haar en dit is so lekker om haar daar te hê,” sê die trio.

Krone by Loftus vind op Saterdag 19 Augustus by Loftus Versfeld in Pretoria plaas. Kaartjies en parkeerkaartjies kan hier aangekoop word. Konsertgangers kan ook inskryf om ʼn wegbreek na die Nkomazi Lodge net buite Badplaas of ʼn kajuit op die Krone-bootreis 2024 te wen. Die wenners van die kompetisies word tydens die vertoning op die verhoog aangekondig.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Kurt Darren, Elizma Theron en Nicholis Louw.

Kyk hier hoe speel Kurt, Elizma en Nicholis “As die vellie pas” by Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.