Luister: Reën se Nolene, Richann kou saam klippe

Nolene en Richann van Reën kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Reën se splinternuwe enkelsnit, “Klippe”, is ʼn sielvolle ballade wat Nolene Spinks, die nuwe lid van die groep, se sielvolle stem ten toon stel.

Die liedjie is geskryf deur Murray Lubbe en Constant van Graan, met behulp van Nolene en Richann Brüssow, die ander helfte van Reën.

“Ek en Constant skryf al lank saam, en hierdie liedjie is ʼn ouerige een wat ons weer afgestof het,” vertel Richann in Maroela Media se ateljee.

“Die liedjie gaan oor hoe dit jou sterker maak as jy vashou aan die moeilike tye waardeur jy is, want dit verander jou. Die liriek sê ‘hou vas aan die klippe en die seer, want môre koop jy blydskap daarmee’.”

Richann, ʼn boer van die Vrystaat, het oorspronklik die musiekduo saam met René de Klerk gevorm ná afloop van die 13de seisoen van die kykNET-program Boer soek ʼn vrou waaraan hulle albei deelgeneem het.

Die 21-jarige Nolene het egter intussen René se plek in Reën oorgeneem, en vertel dat sy en Richann mekaar elke dag beter leer ken en as’t ware saam die klippe van die Afrikaanse musiekbedryf kou.

“Die eerste keer dat ek ‘Klippe’ gehoor het, was ek baie emosioneel. Ons almal kan ons met die liedjie vereenselwig en ek is baie trots daarop. Dit was ʼn groot voorreg om die liedjie op te neem.”

Die liedjie verskyn in die duo se kortalbum getiteld Weer. Die album bevat ritmiese liedjies, onder meer die treffer “Skobbejak”, waarin die gewilde Afrikaanse sanger Refentse ook gehoor word, en die groep se nuwe enkelsnit, “Ek kan nie wag nie”.

Richann en Nolene tydens die bekendstelling van hulle kortalbum, ‘Weer’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Nolene vertel sy moes blitsvinnig saam met Richann die kortalbum opneem nadat hulle vroeër vanjaar ontmoet het.

“Ek leer so baie by Richann en Murray, wat al ons musiek vervaardig. Dit was ʼn ongelooflike ervaring om die album in ʼn baie kort tydperk saam met hulle op te neem.”

Volgens Richann het hy en Nolene vinnig mekaar se ritme leer ken. “Ons is altyd saam op die pad en jy word uiteraard deel van mekaar se lewe.”

Nolene is gebore en getoë in Port Elizabeth (Gqeberha) en is deur Murray op TikTok ontdek. Sy het aan Maak my famous, die talentkompetisie wat deur die kunstenaar Emo Adams aangebied is, deelgeneem en was op die punt om haar musiekloopbaan af te skop toe die Covid 19-pandemie begin.

“Om myself besig te hou het ek video’s waar ek in die stort sing – natuurlik met my klere aan – op TikTok geplaas. In die tydperk waartydens René die groep verlaat het, het Murray ook toevallig vir die eerste keer TikTok afgelaai. Hy het my video’s raakgesien, daarvan gehou en die res is geskiedenis.”

Nolene en Richann saam op die verhoog. (Foto: Facebook/Reën)

Nolene het ook die Klippies-projek, waar klippe oor die hele land opgetel en met bemoedigende woorde geverf word, van stapel gestuur. Dié klippe word dan elders op lukrake plekke geplaas om mense te bemoedig.

“Dit voel so simpel om ʼn klippie te verf, maar jy het geen idee watse uitwerking dit op iemand se lewe kan hê nie.”

Foto’s van geverfde klippies kan ook op sosiale media geplaas word met die hutsmerk #klippiesprojek. Sodoende kan mense mekaar op sosiale media ook bemoedig.

“Dink jou in as jy ʼn rowwe dag en net mooi genoeg gehad het en jy loop ʼn klippie raak wat vir jou sê jy is sterk of jy is genoeg. Dit kan iemand se lewe verander.”

“Klippe” en Weer is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Reën.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Klippe”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.