Luister: Spesiale aanbiedinge vir Aitsa-kaartjies

Die room van die Afrikaanse musiekbedryf sal einde November in Pretoria byeenkom vir die Aitsa-toekenningsgeleentheid in Pretoria.

Afrikaanse musikante word op dié geleentheid met musiekpryse, wat deur Pretoria FM aangebied word, vereer.

Elandré, wat verlede jaar vier Aitsa-toekennings ingeoes het, sal vanjaar saam met kunstenaars soos Refentse, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Rocco de Villiers, Tarryn Lamb, Droomsindroom en Simoné Roets die vermaak vir die geleentheid verskaf.

Afrikaanse kunstenaars en vervaardigers word vereer in verskeie kategorieë, soos liedjie van die jaar, popliedjie van die jaar, instrumentale liedjie van die jaar, geestelike liedjie van die jaar en musiekvideo van die jaar.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op Donderdag 29 November by die Choose Life-kerk in Pretoria bekend gemaak word.

Kaartjies kos R250 per persoon. Daar is ook ʼn spesiale aanbod van R200 per persoon vir groepbesprekings van 10 persone of meer. Dié aanbod is steeds geldig.

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

Die Aitsa-toekennings is geskep om ʼn onafhanklike geleentheid te wees waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word. ʼn Rekordgetal inskrywings is vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ontvang.

Lede van die publiek het nou die geleentheid om tot 16 November vir hul gunsteling te stem in die onderskeie kategorieë by www.pretoriafm.co.za.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, sal op Pretoria FM uitgesaai word. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

  • Luister boaan die berig na ʼn volledige onderhoud met Riaan Grobler, projekbestuurder van die Aitsa-toekennings, waarin hy gesels oor die benoemings, die beoordelingsproses en hoe mense betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.