Luister: Stem nou vir Aitsas se geestelike liedjie van die jaar

Franna Benadé. (Foto: Skoll Photography)

Franna Benadé, Jodi Jantjies en Klipwerf is benoem in die kategorie vir geestelike liedjie van die jaar vir vanjaar se Aitsa-musiektoekennings.

Esté Gross, Len Muller, Jannie Moolman en Dewald Gouws is ook benoem. Riana Nel en die gospelsanger Retief Burger het verlede jaar die prys in dié kategorie gewen vir “Die seën”.

Die Aitsa-toekennings word weer vanjaar deur Pretoria FM aangebied en word aan die einde van November by ʼn glansgeleentheid in Pretoria uitgedeel.

Franna Benadé se liedjies “Net soos ek is” en “Krag in die bloed” het albei benoemings ontvang. Esté Gross en Len Muller se “Hemelruim”, Jannie Moolman en Dewald Gouws se “Met hierdie lofsang”, Jodi Jantjies se “Een naam” en Klipwerf se “Die Heiland is gebore” is ook benoem.

Die Aitsa-toekennings is geskep om ʼn onafhanklike geleentheid te wees waartydens die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van uitmuntende prestasies beloon word. ʼn Rekordgetal inskrywings is vir vanjaar se toekenningsgeleentheid ontvang.

Lede van die publiek het nou die geleentheid om tot 16 November vir hul gunsteling te stem in die onderskeie kategorieë by www.pretoriafm.co.za.

ʼn Weeklikse program waartydens die finaliste in die onderskeie kategorieë bekend gemaak word, sal op Pretoria FM uitgesaai word. ʼn Uittreksel van elke kunstenaar, duo of groep se snit sal gespeel word sodat lede van die publiek ʼn ingeligte besluit kan neem oor wie uiteindelik as wenner aangewys moet word.

Die wenners sal tydens ʼn glansgeleentheid op 29 November bekend gemaak word.

  • Luister boaan die berig na ʼn volledige onderhoud met Riaan Grobler, projekbestuurder van die Aitsa-toekennings, waarin hy gesels oor die benoemings, die beoordelingsproses en hoe mense betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.