Luister: Suzzi vra ‘is als vir niks’ met jongste enkelsnit

Suzzi Swanepoel kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Suzzi Swanepoel kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Maroela Media)

Suzzi Swanepoel, die sangeres en aktrise wat al ʼn draai op die kassie gemaak het as Desiré in die kykNET-sepie Binnelanders en te sien was as Isabel Richter in die dramareeks Sterlopers, se splinternuwe enkelsnit, “Als vir niks”, het onlangs die klankgolwe getref.

Swanepoel (35) wat in 2017 ʼn vollengte-album met die titel Stukkies van my uitgereik het, sê in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media dit is moeilik om die genre van die liedjie “Als vir niks” in een woord vas te vang.

“Ek dink nie daar is noodwendig al so iets gedoen in Afrikaans nie. Ek wil amper sê dit is lounge rock, want dit is musiek wat jy in die agtergrond kan speel en dit sal jou nie irriteer nie, maar dit het steeds ʼn lekker drywende, rock-gevoel.”

Sy vertel dit was heerlik om aan dié snit te werk, omdat dit ʼn vars klank is. “Ek het eintlik die liedjie geskryf net nadat ek my album uitgereik het. Ek het baie kreatief gevoel nadat ek die album uitgereik het en dit is lekker om nou weer in die ateljee aan die liedjies te werk en te sien waarvandaan dit gekom het en waarnatoe dit nou gaan.”

“Als vir niks” resoneer vir Swanepoel met ʼn gevoel dat sy agter is in die wedloop en dat daar altyd iemand om die draai is wat jou een voor is. “Soos ek ouer word, verloor ek soms moed. ʼn Mens voel jy is agter in die wedloop en daar is altyd iemand jonger en beter om die draai. Soms voel ek die lewe, die probeer, die aanhou, is alles ʼn gejaag na wind. Die gejaag na geld, roem en waardering – ook als vir niks,” sê sy.

Suzzi Swanepoel. (Foto: Facebook via Suzzi Swanepoel)

Suzzi Swanepoel. (Foto: Facebook via Suzzi Swanepoel)

“Deur die loop van die jare het ek besef ʼn mens kan net gelukkig wees as jy altyd eerlik met jouself is. Dit help nie om saam met die stroom te probeer swem nie, jy moet jou eie pad volg, jou eie ‘gut’ vertrou en die musiek maak wat uit jou wese kom.

“Elke mens ervaar die lewe en verhoudings op ʼn eie manier, voel dit, proe dit, hoor dit anders en dit is goed so. Sosiale druk en angs eet aan almal van ons, ons twyfel en verloor êrens in die gedrang ons eie stemme. Dis dan wanneer jy moet gaan soek na die ware jy en weer onthou hoekom jy sing.

“Voel jy ook partykeer als is vir niks? Ek dink dit is wat ek wou weet met die liedjie,” sê sy.

Sy vertel hoewel sy tydens die albumopname gebruik gemaak het van verskeie liriekskrywers, het die lirieke vir “Als vir niks” maklik na haar toe gekom. Deesdae forseer sy haarself om eerder self pen op papier te sit as om iemand te kry om vir haar te skryf.

“Partykeer skryf ek vier, vyf, ses verse en dan meng en pas ek maar tot ek iets konkreet kry waarmee ek kan werk. So ek moet sê ek is baie kwaaier met myself wat die skryfproses betref in die nuwe liedjies.”

Swanepoel, wat in 2009 die top-12 in die Idols-sangkompetisie gehaal het, het ʼn hele rits musiekvideo’s vir die snitte in Stukkies van my uitgebring, maar hou vol dat die video vir die rock-liedjie, “Blou sweeties”, haar gunsteling-video is.

“Ons het twee musiekvideo’s binne 24 uur in Kaapstad geskiet en ek kan nou vir julle sê dat dit geen grap was nie. Die lekker deel was dat ons in Kaapstad se strate kon speel en die stadsgedruis kon vasvang.

“In die video sien ʼn mens die introspeksie van ʼn meisie wat met haar kêrel baklei. Sy probeer hul verhouding red, maar hy sit die foon in haar oor neer. Sy beweeg dan deur emosies – van ʼn skuldgevoel tot woede, hartseer, nostalgie en alle ander emosies wat ʼn mens in situasies soos hierdie beleef.”

Stukkies van my en “Als vir niks” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.