Luister: Tasché is ‘24/7’ haarself

Tasché. (Foto: verskaf)

Tasché is ’n sangeres, rockster en deesdae ook bokser, maar eintlik wil sy net die toonbeeld wees van iemand wat ten alle tye niks anders as haarself is nie.

Dié 22-jarige sangeres het in 2019 bekendheid verwerf toe sy as wenner van die derde seisoen van The Voice: South Africa aangewys is. Sedertdien het sy talle treffer-tranetrekkers die lig laat sien.

“Ek het destyds vir The Voice ingeskryf om saam met ongelooflike mense te kan werk. Ek is bevoorreg dat ek vandag steeds ʼn pad saam met dié einste mense stap,” het Tasché in Maroela Media se ateljee vertel.

Sy het sedert dié talentsoekkompetisie ook noue musikant- en vriendskapbande met kunstenaars soos Francois van Coke gesmee. Dit is juis Francois, wat in 2021 self in die bokskryt met Derick Hougaard geklim het, wat Tasché aangemoedig het om aan die derde BoxOp deel te neem.

Dié boksgeveg, tussen Tasché en die aktrise Angelique Gerber, het verlede jaar plaasgevind en talle lewenslesse vir dié sangeres ingehou.

“Dit is soveel meer as boks; ek het meer oor die lewe geleer. Ek het meer geleer oor uithouvermoë. Ek sal dit enige dag weer doen,” vertel Tasché.

Tasché se jongste enkelsnit, “Prentjies”, is in Februarie vanjaar uitgereik en is iets waarop dié sangeres uitsonderlik trots is.

Tasché geniet hierdie liedjie, wat deur Hiram Koopman geskryf is, nes talle van haar vorige liedjies.

“Die mooi ding van ‘Prentjies’ en die vorige liedjie, ‘Sal jy vir my wag’, wat Hiram Koopman geskryf het, is dat jy die beelde kan sien soos wat jy na die liedjie luister.

“Dit is so eenvoudig, tog so beskrywend.”

Vir Tasché is musiek haar gemak en tuiste, sy kan haarself nie ’n ander beroep voorstel nie.

“Ek het ook besef dat ek mense wil inspireer om 24/7 hulself te wees, en vir dit om te gebeur moet ek ook 24/7 myself wees.”

  • “Prentjies” is nou op alle groot digitale stromingsplatforms beskikbaar.
  • Luister boaan na ’n volledige klankonderhoud met Tasché.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.