Maak litte los saam met Corné Louw dié Braaidag

Maak jou litte los saam met Corné Louw dié braaidag. (Foto: verskaf)

“Dit is ’n tradisie wat ons in ons het. Maak nie saak wat gebeur nie, Afrikaners braai!”

Só sê Corné Louw oor sy nuwe liedjie, “Nes ons kan”, wat spesiaal vir die heerlike samesyn van Braaidag geskryf is.

Dié skoffeltreffer is deur Louw en Hugo Ludik aanmekaargetimmer en is juis geskryf vir lekkerluister terwyl die skaaptjoppie en braaibroodjie op die kole is.

“Suid-Afrikaners ontspan wanneer hulle saam met vriende en familie kuier en heerlik saam braai.”

Die musiekvideo van die country-snit is deur Gerduan Kemp geskiet en vang die heerlike kuier, braaivleisreuke en samesyn van ’n Suid-Afrikaanse Erfenisdag vas.

Hy glo ook dat dié liedjie elkeen by die braai gaan beïndruk.

“Hierdie lied nooi jou om te kuier. Almal moet dit net geniet en kliphard op Braaidag speel.”

Louw, wat sy grootwordjare in Gauteng deurgebring het, woon nou in Langebaan op die Weskus. Hoewel hy as kind en tiener nog nie in ’n musiekloopbaan belang gestel het nie, is dit musiek waarin hy vandag sy vreugde vind.

“Ek het van kleins af gesing, hoewel ek geen musiekopleiding gehad het of aan musiekaktiwiteite by die skool deelgeneem het nie.”

As jong volwassene het hy egter vir twee weke by sy oom en tannie deurgebring, ’n kuiertjie wat tot die afskop van sy musiekloopbaan gelei het.

Hy vertel hoe sy tannie hom een aand oortuig het om netjies aan te trek en saam met haar na ’n saamsinggeleentheid te gaan waar hy saam met ’n orkes kon optree.

“Daar het ek mense ontmoet wat my aangemoedig het om my sangtalent te ontgin,” vertel Louw.

“Ek was vir ’n ruk stil gewees, ek het ’n mynonderneming saam met my pa begin. Met die verkoop van die sakeonderneming, het ek geweet dat ek weer wil begin sing.”

Hy het deur die jare heen by feeste en ander musiekgeleenthede opgetree en werk tans aan sy tweede album.

Luister na “Nes ons kan” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.