Maak litte los saam met VatVas Dansorkes

VatVas Dansorkes. (Foto: verskaf)

Wanneer mense na die musiek van VatVas Dansorkes luister, moet die voete spontaan en ritmies begin saambons.

Só het Rudie Grobler, elektriese kitaarspeler, dié groep se musiek beskryf.

VatVas Dansorkes het in 2017 ontstaan en het sedertdien ’n Aitsa-, Ghoema-, Afri Indie- en Suid-Afrikaanse Musiek (SAMA)-toekenning ontvang vir hul ritmiese, moderne aanslag op boeremusiek.

Die groep bestaan uit Koos van Dyk (tromme), Rudie Grobler (elektriese kitaar), Martin Viljoen (baskitaar) en Johan Duvenhage (elektriese kitaar).

“Dit was ’n voorreg vir ons om die toekennings te kon ontvang wat ons het. Ek dink dis belangrik om nederig te bly as iets wat jy self gedoen het, goed doen,” het Van Dyk aan Maroela Media gesê.

Die groep, wat uit lede van verskillende generasies bestaan, wil graag hul musiek so aantreklik moontlik vir luisteraars van oud tot jonk maak.

“Ons wil daardie oemf insit. Een van ons mikpunte was om musiek te maak wat die jonges selfs deur ’n boombox kan luister,” het Van Dyk verduidelik.

Mense is uiteraard een van dié vastrap-groep se groot voorliefdes.

“Dit gaan oor die gehoor. Jy kan briljante musikante hê wat briljante musiek maak, maar op die einde van die dag gaan dit oor die gehoor en hul reaksie daarop. Hulle moet aanklank vind by dit wat jy doen.”

Die groep staan trots in die moderne klank wat hulle ontwikkel het.

“Ons musiek word nie vervelig nie, dit bly interessant. Jy kan heeldag lank daarna luister,” het Duvenhage gesê.

Die groep streef daarna om baanbrekerswerk in boeremusiek te doen.

“Ons wil ’n nuwe baadjie vir tradisionele boeremusiek aantrek. Ek dink die mense daar buite hou daarvan. Dis ons eie styl, ons manier van musiek maak. By nog elke plek waar ons opgetree het, is ons met ope arms ontvang,” het Duvenhage bygevoeg.

VatVas Dansorkes se splinternuwe album, Kitaar verlange, se klank word as weemoedig beskryf, hoewel daar ’n ritmiese, kontemporêre element ook in die musiek gehoor kan word.

Dié album is nie net op digitale stromingsplatforms beskikbaar nie, maar ook as CD wat in winkels en by VatVas se konserte aangeskaf kan word.

“Dit is baie meer persoonlik en mense verkies om ’n album van VatVas in hulle CD-versameling te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.