Martin Bester en sy vele talente

Martin Bester in Maroela Media se radio-ateljee (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Party mense ken vir Martin Bester as ʼn radioman, ander het al sy musiek geluister en nog ander het hom dalk al op die kassie gesien. Op die een of ander manier kry hy dit reg om sommer ʼn handvol ysters op een slag in die vuur te hou.

Bester het die Afrikaanse musiekmark as sanger betree met sy debuutsolo, “Vir die eerste keer”, waarna die album Vir die liefde uitgereik is. Sy enkelsnitte “Konings” en “Staan op” het hierop gevolg.

Hy is ewe bekend in die Engelse musiekmark as voorsanger van die groep Kinky Robot, met die treffer “Hobie Beach”. Bester het dié liedjie geskryf oor die strand waar hy grootgeword het in Port Elizabeth. Hy is ook deesdae die eienaar van sy eie geleentheidsmaatskappy.

Hy het op skool koor gesing, toneel gespeel en rugby gespeel. Daarna het hy aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) gaan studeer, waar hy deel geword het van ʼn musiekgroep en by die kampusradiostasie begin werk het.

Die meeste mense sal egter Bester die beste ken as die aanbieder agter Jacaranda FM in Pretoria se ontbytprogram Breakfast with Martin Bester. Bester en sy span het selfs vanjaar weggestap met die Radio Awards se toekenning vir beste ontbytprogram van 2020.

Bester sê dit is die spandinamika wat van dié program so ʼn groot sukses maak.

“Ons almal probeer baie gedissiplineerd wees en almal is deel van die program. Dit is ook lekker om saam met ʼn span te werk wat goed met mekaar oor die weg kom, want dit is nie altyd vanselfsprekend nie.

“Ons probeer die program so gemaklik moontlik hou, asook toeganklik en interaktief met ons luisteraars,” sê hy.

Een van die groot suksesse van Bester se ontbytprogram is Good Morning Angels, wat poog om noodbehoewende mense oor die hele Suid-Afrika by te staan en te help.

Bester sê dit is ʼn groot voorreg om deel van Good Morning Angels te wees, maar dat dit ook partykeer moeilik kan wees om die werklikheid in die oë te kyk.

“Suid-Afrika het soveel nood, so party dae is dit moeilik, want jy moet mense wegwys. Ons kan onmoontlik by almal uitkom, maar die mense wat ons wel kan help, gee jou baie moed en hoop. Dit is dikwels die geval dat mense saamspan om ʼn verskil te maak, al ken hulle nie die mens of gemeenskap in nood nie. Hulle help net omdat hulle kan.

“My gunstelingdeel van Good Morning Angels is wel om herinner te word dat daar nog soveel goed in mense is. As jy na die nuus kyk, kry jy dalk ʼn ander idee, maar Good Morning Angels herinner ons dat daar eintlik baie sulke onselfsugtige mense is wat net ander wil help.”

Bester het onlangs sy jongste enkelsnit, “Anders”, vrygestel om luisteraars aan te moedig om hul uniekheid te omarm.

“Die liedjie is klankgewys iets anders as wat ek al ooit voorheen gedoen het. Ek dink dit is heel gepas wat dié tydperk betref, want kom ons wees eerlik, 2020 is anders.”

Bester sê hy hoop mense beleef ʼn gevoel van selfaanvaarding as hulle na “Anders” luister.

“Baie van ons het grootgeword met die idee dat jy op ʼn sekere manier moet lyk, praat of optree om aanvaar te word, maar ons moet besef ons is uniek, en in plaas daarvan om dit weg te steek, kan jy dit vier.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.